15 Februarie 2019
Die tweede belangrike hulpmiddel: Agtergrondskennis
Was jy ooit deel van ‘n geselskap toe daar skielik iemand halfpad deur by die gesprek aangesluit het sonder dat hy of sy die vaagste idee gehad oor wat nog tot dusver gesê is nie, maar nog altyd baie uitgesproke sy opinie gegee het? Dis vir seker ‘n uitstekende manier om jou naam te ruk, soos ons altyd as studente gesê het. Sonder die nodige agtergrondskennis van die gesprek tot dusver kan jy maklik ‘n totale gek van jouself maak!
Agtergrondskennis is onontbreerlik as jy regtig enige kommunikasie wil verstaan. En nou kry ‘n mens natuurlik verskillende soorte agtergrondskennis:
2.1. Veronderstelde agtergrondskennis:
As jy iets lees, moet jy iets verstaan van die kultuur en omstandighede agter die woorde. Jy moet iets weet van die literêre, geografiese en sosiaal-politieke wêreld agter die teks. Kom ons neem Genesis 16:1-2 as voorbeeld. Daar staan: “Sarai het nog nie vir haar man Abram ’n kind in die wêreld gebring gehad nie. Sy het ’n Egiptiese slavin met die naam Hagar gehad. Toe sê Sarai vir Abram: “Die Here het my nou eenmaal daarvan weerhou om kinders te kan hê. Gaan slaap by my slavin. Miskien bring sy ’n kind in die wêreld wat my eie kan word.” En Abram het saamgestem met sy vrou.” Vir jou as moderne leser is hierdie (hopelik!) regtig skokkend. Maar in die wêreld waarin Abram en Sarai gelewe het, was dit eintlik vanselfsprekend.
Dieselfde geld byvoorbeeld ook van die onderhandelings tussen Abraham en Efron in Genesis 23:3-18. As jy as moderne leser daar lees klink dit baie soos ‘n sinlose kat-en-muis-speletjie maar dis eintlik baie tipies van die kultuur van die Ou Nabye Ooste. Dis hoe mens destyds besigheid gedoen het!
2.2. Implisiete agtergrondskennis:
Alle agtergrondgegewens is natuurlik nie voor die hand liggend nie. Somtyds moet jy baie fyn luister om meer subtiele aanduidings in die teks op te tel wat jou kan help om te verstaan presies wat daar in die teks voor jou aangaan. As jy byvoorbeeld in Jesaja 36:13 lees: “Toe gaan staan die hoofadjudant en skree hard in Judees: “Luister wat sê die groot koning, die koning van Assirië!” gaan dit jou help as jy weet dat die woorde “die groot koning” eintlik in daardie tyd ‘n tegniese term was, wat in die internasionale wêreld in die tyd van die Ou Testament gebruik is binne die kontraktuele verbintenis tussen die volk en die koning.
Wanneer die offisier van Assirië dus hierdie woorde gebruik het dit sekere implikasies vir die Jode wat na hom luitser, en vir die verhouding tussen Israel en Assirië.
2.3. Eksplisiete agtergrondskennis:
Ander kere weer, help die skrywer jou deur sommer reguit vir jou die feite te gee wat jy moet hê om die teks te verstaan. ‘n Goeie voorbeeld hiervan kry ons in Lukas 6:12-18. Daar lees ons: “In daardie tyd het Jesus uitgegaan na die berg toe om te bid en die hele nag deurgebring in gebed tot God. Toe dit dag word, het Hy sy dissipels nader geroep en twaalf van hulle uitgekies, wat Hy ook apostels genoem het. Hulle was Simon, wat Hy ook Petrus genoem het, en sy broer Andréas, Jakobus en Johannes, Filippus en Bartolomeus, Matteus en Tomas, Jakobus seun van Alfeus, Simon die Seloot, Judas seun van Jakobus, en Judas Iskariot wat die verraaier geword het. Hy het saam met hulle van die berg afgekom en op ’n gelykte by ’n groot aantal volgelinge gaan staan. Van die hele Joodse land en Jerusalem en van die kusgebied van Tirus en Sidon af was daar ’n menigte mense wat gekom het om na Hom te luister en van hulle siektes genees te word. Ook dié wat onder onrein geeste gely het, is gesond gemaak.”
Wat jy hier bo het, is basies die agtergrondsituasie waarbinne Jesus sy bergrede gelewer het. As ons dit weet, is ons reg om verder te luister na die grootste preek van alle tye, wat daarop gevolg het…
Verlede week het ons gepraat oor hoe belangrik dit is dat jy sal vra watter soort teks (“genre”) jy voor jou het, sodat jy dit reg kan verstaan. Ewe belangrik is dat jy agtergrondsinligting inwin om jou te help om die teks in perspektief te sien.