4 September 2023
Ons bekommer dikwels so maklik, vergeet soms so vinnig en vertrou dalk by tye te min.
Ons gemeente het hierdie week sy 43ste verjaarsdag gevier – en ek dink dit is ‘n geleentheid wat verdien om gevier te word. Vir my beteken om iets te vier om in dankbaarheid terug te kyk en te onthou wat reeds gebeur het en om te hoop op dit wat nog kom.
Ons onthou hoe die gemeente deur die jare geseën is en hoe God ons deur die moeiliker tye gedra het. God het ons tot hier gebring: Hy sal ons ook verder dra.
God se Kerk is nie gebou op die skouers van mense nie – ons is bloot instrumente in God se hande en dienaars in Sy koninkryk. Tog sou ons gemeente nie kon bly staan sonder lidmate wat getrou was aan hierdie roeping nie – en steeds is nie.
Ek is dankbaar vir elke lidmaat wat, op watter manier of terrein ookal, betrokke is, of was, by De Eike. Ek is nog maar ‘n relatief kort tyd deel van die De Eike-familie, maar ek is dankbaar vir elke lidmaat wat voorheen deel van hierdie familie was, vir elkeen wat tans deel van my gemeente-familie is, en vir die nuwe generasie wat by ons sal oorneem wanneer die tyd daarvoor aanbreek.
De Eike se visie is juis om ‘n familie te wees wat leef in die voetspore van Jesus. Deur ons waardes van aanvaarding, waardering, beskikbaarheid, deernis en aanspreeklikheid uit te leef, laat elke lidmaat ‘n voetspoor op die hart van die gemeente.
Ek staan in dankbare afhanklikheid teenoor ‘n God wat nog altyd gelei en versorg en geseën het. My vertroue dat Hy sal aanhou om dit te doen, is nie ongegrond nie. DAAROM is ek ook vol hoop vir my gemeente se toekoms.