22 Februarie 2019

Die tweede belangrike hulpmiddel: Taalvaardigheid:

In ons gesprek oor die verstaan van die Bybel, het ons nou al twee belangrike bakens geïdentifiseer. Die eerste was die literatuursoort of genre van die teks, en die tweede was die verskillende vlakke van agtergrond daaragter. Vandag bekyk ons ‘n derde hulpmiddel: die taalkundige eienskappe van die teks.

1.Idiome en idiomatiese taal:

Idioom is dit wat eie is aan ‘n spesifieke taal. Elke taal het sy eie manier van goed sê, en as jy nie die idioom van ‘n taal ken nie, kan jy nogal baie absurde afleidings maak! Die appel wat nie ver van die boom af val nie, het baie min met appels of met bome te maak.

Ook in die Bybel kry ons idiome wat eie is aan die taal van daardie tyd. ‘n Goeie voorbeeld is Matteus 10:35: “Ek het gekom om tweedrag te bring tussen ’n man en sy vader en tussen ’n dogter en haar moeder, tussen ’n skoondogter en haar skoonmoeder…” In Afrikaans klink dit asof dit van die begin af Jesus se oogmerk was om moeilikheid te maak, en niks kan tog verder van die waarheid af wees nie. Hebreeussprekendes, aan die ander kant, stel dikwels die uitwerking van ‘n saak voor asof dit oorspronklik die doel daavan was. Jesus het dus nie doelbewus tweedrag gesaai nie; maar dis dikwels die resultaat van dissipelskap.

2  Stylfigure en stillistiese verskynsels:

Dis byna dieselfde as hierbo. Stylfigure moet nie letterlik gelees word nie, soos jy in Amos 4:1 kan sien: “Luister na hierdie woord, vrouens wat op Samariaberg lekker lewe, lewe soos die koeie van Basan, julle deur wie die swakkes verdruk en die armes mishandel word, julle wat vir julle mans sê: “Bring wyn dat ons kan drink!” (Letterlik staan daar. “Hoor hierdie woorde, Koeie van Basan…”). Amos het hier eintlik niks met koeie te make nie, maar enige Jood sou weet dat Basan ‘n veeteeltgebied ver van Samaria as, en dat Amos, as ‘n wéét van die rustigheid waarmee koeie sorgvry wei – so min gepla soos die vroue van Samaria.

3. Verband:

In enige taal is daar woorde wat meer as een ding beteken. Dan moet jy mooi kyk in watter verband die sin staan, om te kan aflei watter betekenis dit hier dra. Dis dikwels nodig om die sin fyn te ontleed, soos bv in Genesis 32:24-26: “Jakob het alleen daar agtergebly, en ’n man het tot dagbreek met hom gestoei. Toe hy agterkom dat hy nie vir hom kon wen nie, het hy, terwyl hy met hom stoei, vir hom teen die heup geslaan sodat dit uit die potjie gespring het. Hy het toe gesê: “Los my, want die dag breek.” Maar hy antwoord: “Ek sal jou net los as jy my seën.” (Voornaamwoorde soos in die Hebreeus). Tensy jy dit baie mooi analiseer, gaan jy sukkel om te verstaan van wie die skrywer op watter stadium praat. Dis presies net so belangrik by Paulus se berugte lang sinne!

4. Samevatting:

Om ‘n teks regtig te verstaan, moet jy dus iets weet van die taal wat daar gebruik word. Jy moet iets weet van:

Idiomatiese taalgebruik

Stylfigure en stillistiese taal

Tekstuele verband

Sinsverband

Moontlike betekenisse van woorde

Eendersklinkende woorde met verskillende betekenisse

Isolering van woorde uit ‘n klankstroom

Voordat jy dit nie dit alles in gedagte gehou het nie, kan jy kwalik daarop aanspraak maak dat jy die teks regtig verstaan!