1 Maart 2019
Hou jy nog kop?
Teen die stadium in ons gesprek oor die verstaan van die Bybel wonder jy dalk al of dit regtig nodig is om alles so ingewikkeld te maak? Mag mens dan glad nie die Bybel net eenvoudig lees (“naïewe lees” noem die geleerdes dit) onder leiding van die Gees nie? Of erger nog: Beteken dit ek lees nog altyd die Bybel verkeerd?
Natuurlik nie! Daar is in elke Christen se lewe ‘n wonderlike plek vir net rustig lees uit die Bybel. Buitendien, wie is nou eintlik toegerus om elke keer al hierdie vaardighede toe te pas wanneer ons stiltetyd hou? Tog dink ek aan die ander kant ook dis belangrik dat jy wel daarvan kennis neem, en verstaan dat daar meeste van die tyd méér agter die teks is as wat jy met die eerste oogopslag raaklees. Die Bybel het geweldig baie diepte, en op elke vlak waarop jy dit lees ontdek ‘n mens nuwe skatte daarin…
Tot dusver het ons gesels oor hoe belangrik die literêre tipe (genre) van die teks is waarmee jy besig is, en dat jy die agtergrond van die teks in ag moet neem. Verlede keer het ons gewys op die belangrikheid van taalvaardigheid: om stylfigure, idiome en die verband waarin die teks staan te kan identifiseer. Vandag gaan ons bietjie verder, en praat oor wat eksegete “Literêre kodes” noem:
4.1. Realisme tot fantasie (ook romantiek & satire)
Een ding staan soos ‘n paal bo water: nie alle geskrewe stukke is bedoel om ewe letterlik opgeneem te word nie! Normaalweg sukkel ons nogal nie om die verskil raak te sien as ons Saterdagoggend die koerant lees nie. Dis baie duidelik dat die hoofberig graag ernstig geneem wil word, as dit vertel van die een of ander ding wat in ons wêreld gebeur het. Dis “realisme”. Maar as jy daarna “Van alle kante” of “Skuimkop” lees, kom jy tog gou agter dat die skrywer effe tong in die kies skryf. Hy wil nog altyd sy punt maak, maar op ‘n heel ander manier – “satire”. Ongelukkig is dit net nie altyd heeltemal ewe maklik om raak te sien nie…
So bestaan ‘n groot deel van die Bybel uit liedere – en al neem jy liedere ook ernstig, en dra dit ‘n baie sterk boodskap, is dit tog iets heel anders as prosa. Dit wil dikwels eerder ‘n bepaalde gevoel by jou wakker maak, as om met jou te redeneer oor iets.
4.2. Karaktertekening
Hoe belangrik is die detail wat die skrywer vir ons oor ‘n karakter gee – byvoorbeeld wanneer daar vir ons oor Ehud in Rigters 3:15 vertel word dat hy linkshandig was? Wel, natuurlik is dit somtyds net (meer of minder) interessante detail, wat eintlik nie veel tot die verhaal bydra nie, maar in Ehud se geval is dit baie belangrik vir die verloop van die res van die verhaal – gaan lees maar self.
4.3. Karakter- en stemmingsbewegings:
Selfs binne-in ‘n sekere boek verander die stemming dikwels soos die verhaal vorder. Daar is gedeeltes wat nie soseer tot die verhaal bydra nie, as wat dit net bietjie atmosfeer skilder of dalk selfs bietjie ligter afwisseling bring wanneer die storie te swaar raak. Jy moet nogal senstitief wees om dit op te tel, want jy kan vir seker nie altyd ‘n verhaal dwarsdeur ewe letterlik neem nie.
4.4. Ordening van materiaal:
Enige skrywer orden die verhaal waarmee hy werk, om ‘n spesifieke boodskap oor te dra. Dis nogal belangrik om soms jouself af te vra: Waarom plaas die skrywer die gebeure juis hier? Sê nou maar: hoekom vertel hy ons van hierdie gebeure of hierdie gelykenis direk nadat hy van die bergrede berig het? Hoekom staan die gedeelte presies hier in die Bybel?
4.5. Gesigspunt:
‘n Baie belangrike vraag om te vra, is: Watter rol speel die verteller van die verhaal hier? Onthou elke skrywer laat jou maar so min of meer hoor wat hy wil hê jy moet hoor! Hy selekteer die gegewens, orden die gegewens, en bied dit uit sy spesifieke gesigspunt aan. Wat wil hy bereik? Hoe bied Matteus byvoorbeeld vir Evangelieverhaal anders as sê nou maar Lukas aan?
Volgende week gesels ons verder, wanneer ‘n ander baie belangrike “literêre kode” ter sprake kom: Die verskillende kontekste wat bepaal hoe ons die teks verstaan.