8 Maart 2019
Verlede keer het ons gesels oor die sg. “Literêre kodes” wat ons in gedagte moet hou as ons die teks lees:
- Realisme tot fantasie: Hoe letterlik moet ons dit neem wat die skrywer vertel?
- Karaktertekening: Hoe belangrik is detail wat oor ‘n karakter gegee word?
- Karakter- en stemmingsbewegings: beweging in ‘n teks.
- Ordening van materiaal: Waarom plaas die skrywer die gebeure juis hier?
- Gesigspunt: Wat is die rol en oogmerk van die verteller?
Daar bly nou nog een literêre kode” oor waaroor ons vandag moet gesels, en dit is die konteks waarin ons die verhaal lees. Eintlik moet jy van meer as een konteks praat:
- Die konteks van die spreker
Elke teks het ‘n verteller, wat vir ons die verhaal vertel. Natuurlik word sy vertelling beïnvloed deur wie hy is en waar hy vandaan kom. As hy byvoorbeeld formele opleiding gehad het, sal jy dit hoor in die beelde wat hy gebruik en die taal wat hy praat. Niemand van ons kan gaan sit en skrywe in ‘n vakuum nie! Daarby gaan sit en skrywe elke skrywer mos met ‘n rede, en ook daardie mortivering is deel van die konteks van ‘n teks. As jy byvoorbeeld ‘n gelowige Jood is, gaan jy anders skrywe oor die Eksodus as wat ‘n skrywer aan die hof van Farao sou doen…
- Die konteks van die hoorder:
Dis nie net die skrywer se konteks (agtergrond) wat van belang is nie. Ook sy lesers kom uit ‘n bepaalde konteks, wat bepaal hoe hulle die teks gelees het. Hulle ervarings en opvoeding het hulle die teks in ‘n sekere lig laat sien en hoor. En vanselfsprekend is hierdie oorspronklike lesers se konteks wêrelde verwyder van ons s’n vandag. Die groot vraag is dan: wat wou Paulus vir hulle sê, en hoe het hulle hom gehoor? Eers as ons dit gevra het kan ons begin vra: Wat wil dit vandag vir ons in ons eie konteks sê?
- Die konteks van die uitlegger:
Daar is ook natuurlik ‘n derde konteks wat van belang is: jou eie. Niemand kan “objektief” na ‘n teks kyk nie. Ons is almal gevorm deur goed soos ons kerklike tradisie (of ons Gereformeerd is of Charismaties of Rooms, of wat ook al), asook ons sosio-ekonomiese agtergrond (wie jy is, bepaal hoe jy die teks hoor), ons politieke omgewing (daarom word daar bv. van “Swart” of “Wit” teologie gepraat). Dinge soos die morele en sedelike waardes waarin jy leef, bepaal hoe jy oor goed dink, terwyl jou geskiedenis ook jou interpretasie beïnvloed. Daarby bepaal die metode waarmee jy kies om met die teks om te gaan, ook grootliks wat jy daaruit gaan hoor..
Die groot punt is: niemand lees die teks onbevange en vars nie. Of jy dit wil weet of nie, skrywer, oorspronklike lesers en jyself is gevorm deur baie dinge, wat bepaal wat jy daarin hoor.