5 April 2019

Samevatting

Ek sal jou nogal nie kwalik neem as dit alles waaroor ons tot dusver gesels het, vir jou net ‘n klein bietjie (of meer!) oorweldigend is nie! Maar dis sal eintlik baie goed as jy een ding deeglik besef het oor die afgelope klomp weke wat ons daarmee besig was, en dit is dat  ons as moderne mense nie sommer vanselfsprekend verstaan wat die Bybel vir ons sê nie. Dis na alles ‘n baie ou geskrif wat 1000e jare gelede geskrywe is deur mense wat in heeltemal ander wêreld gelewe het as ons, vir mense wat self ook in ‘n totaal ander wêreld as ons gelewe het. Natuurlik gaan jy end-end sukkel om dit in 2019 te verstaan!

Maar ons probeer dit tog so eenvoudig as moontlik maak: wat moet ons wat tog nie teoloë is nie, dan vir mekaar hieroor sê?

  1. Oppas vir ‘n te letterlike verstaan: Mense dink party keer dis hoe jy die teks van die Bybel tot sy reg laat kom. Maar om net te sê: “Ek lees dit net soos dit daar staan” gaan maak dat jy nie die Bybel altyd reg verstaan nie.

 

  1. Kweek vir jouself ‘n sensitiwiteit aan vir die verskillende literatuursoorte in die Bybel, en probeer elkeen op sy eie meriete benader. Moenie Genesis lees soos Romeine, of Psalms soos openbaring nie, maar maak dit jou gewoonte om elke keer te vra: Nou met watter soort geskrif het ek hier te doen – dan gaan jy dit klaar makliker verstaan!

 

  1. Moenie bang wees om op te lees oor die wêreld van die Bybel en sy mense nie. ‘n Boek soos die Bybellennium, of die Bybel A-Z, of die Bybel in Praktyk is vir ons gewone mense van onskatbare waarde, want hulle help ons daarmee.

 

  1. Moenie langer tevrede wees om net oppervlakkig om te gaan met die Bybel nie. Leer

jouself “eksegetiseer”! Raak stil as jy klaar gelees het, en vra jouself af na die aard, die konteks, die implikasies en die gees van die teks.

 

TEN SLOTTE

Enkele belangrike eksegetiese reëls vir die gewone lidmaat

 

  1. Vra altyd na wat die sentrale boodskap van die teks is. ( ons noem dit die skopus van die teks.) Dit help ons om nie in allerlei irrelevante detail vas te val nie. Wat wil die Here hier vir ons sê? is die belangrikste vraag in Bybelstudie.

 

  1. Neem altyd die konteks in ag. Dit is belangrik om te weet: hierdie gedeelte is in die ballingskap geskryf, of net nadat die Jode terug was in Jerusalem. Maar daarvoor sal jy bietjie wyer moet oplees!

 

  1. Neem die verband in die teks self in ag: Hoekom vertel die Evangelieskrywe dit presies hier? M.a.w. net na die voorafgaande verhaal? Watter lig werp dit hierop? Moenie verse een-een lees soos ‘n hoender wat mieliepitte oppik nie!

 

  1. Onthou, ons verklaar altyd ‘n vers in die lig van die groter geheel van die Bybel. Die Bybel is nie teenstrydig nie!

 

  1. Hou rekening met die voortgang van die openbaring. ‘n Goeie voorbeeld is die manier waarop Psalms praat oor die lewe na die dood – heeltemal anders as Paulus, want die prentjie het tog vir ons al duideliker geword!

 

  1. Oppas vir oormatige vergeesteliking en tipologie! Jy hoef nie aan alles ‘n geestelike betekenis toe te ken nie. Die vyf klippies wat Dawid optel, is net klippies!

 

  1. Christologiese ontsluiting: Onthou, die hele Bybel gaan oor die werk en Persoon van Jesus Christus. Die OT sien vooruit na sy koms, die NT vertel wat Hy gedoen het, en hoe ons moet lewe tot Hy weer kom. Hy is die kern en die hart van God se openbaring. Hy is die Woord wat mens geword het!

 

-ooOoo-