3 Julie 2020

  1. Die volgende rak in die Bybel-Biblioteek:

 DIE HISTORIESE BOEKE

‘n Mens het nogal gemengde gevoelens oor hierdie rak in die Bybel-biblioteek. Aan die een kant bevat dit pragtige verhale wat lekker lees, soos dié van Simson, Gideon en Rut, maar aan die ander kant skrik die eindelose naamlyste en die dikwels grusame verhale ‘n mens bietjie af. Maar ook hierdie boeke is deel van die Woord van God, waarin die Here Homself aan ons openbaar. Daarby kom daar baie belangrike temas in hierdie boeke aan die orde: temas soos heiligheid en trou, God se voortgaande plan, ens. Kortom: Dit bly deel van God se Woord en daarom die moeite werd om by stil te staan!

  1. Die Genre van die Historiese Boeke:

Hierdie boeke word saamgegroepeer onder die noemer “Historiese Narratief” – dit beteken dat dit vir ons die storie van die          geskiedenis vertel. Maar dis nie al nie. Dit vertel ook oneindig méér as net ‘n storie – omdat dit deel van God se Woord is, dra dit ‘n boodskap oor wat ook vir ons vandag nog steeds bedoel is. As jy dit deurlees, kom jy gou agter dat dit (anders as die eerste hoofstukke van die Bybel) duidelik nie ook ‘n gedig is nie: dit bevat byvoorbeeld geen ritmiese struktuur nie, en is ook glad nie meer so beeldryk nie. Dis baie duidelik ‘n storie, wat so geskrywe is dat ons dit veel meer letterlik sal verstaan!

 

Maar natuurlik gaan jy nie net die storie van die geskiedenis daarin vind nie. Daar is ook verskeie ander letterkundige vorme daarin vermeng: dinge soos gedigte, lyste, liedere en spreuke word vir ons so met die verhaal vermeng.

  1. Geskiedskrywing:

Ons dink gewoonlik dat geskiedskrywing aan ons ‘n objektiewe, feitelike weergawe van gebeure bied, maar dit werk natuurlik nie heeltemal so eenvoudig so nie. Net soos enige koerantberig vandag, is dit na alles deur ‘n mens geskrywe, en daarom is alle geskiedskrywing eerder ‘n weergawe van dit wat gebeur het, gekleur deur die standpunte van die verteller. Daarby is:

– Geskiedskrywing selektief: die skrywer kies wat hy gaan sê en wat hy uitlaat.

– Gebruik geskiedskrywers bronne: Hulle haal aan uit ander werke.

– Die ten boek stel van die geskiedenis volg soms baie lank na die gebeure self: in die Bybel se geval is verhale eers vir eeue mondelings oorgelewer.

– Geskiedskrywing vra daarom van die leser interpretasie: jy moet fyn lees om die waarheid van wat presies gebeur het, te probeer agterkom!

  1. Hoe moet ons die historiese boeke lees?

Jy kom dadelik agter wanneer jy hierdie boeke lees, dat die skrywers dit vir ons as die waarheid aanbied. Dit is nie blote stories om ons te vermaak nie. Daarby is dit natuurlik ook deel van die Woord van God, en openbaar die Here Homself aan ons in en deur hierdie verhale. Aan die ander kant, lê God se selfopenbaring in hierdie boeke natuurlik op ‘n totaal ander vlak as wat ons in die NT aantref (ons noem dit “die voortgang van die openbaring – die Bybel teken vir ons ‘n baie duideliker prentjie van wie God is en wat sy wil is, in sê nou maar Romeine, as in Genesis. Jy kan gerus blaai na Hebreërs 1:1-2 en gaan kyk wat die Bybel self daaroor sê).

 

Die historiese boeke leer vir ons iets baie belangriks oor wie God is, en hoe Hy handel: God openbaar Homself nie aan ons in abstrakte idees nie, maar ons Hom leer ken in die praktyk van die geskiedenis, in hoe Hy werk met mense en deur gebeure, en deur die manier waarop Hy die pad saam met sy mense loop. Ons leer ken Hom in die praktyk van die lewe saam met God. Aan die ander kant is dit nie altyd so maklik om die stem van God te hoor en sy hand raak te sien in gebeure nie – selfs vir die Bybelse mense was dit destyds al nie so glashelder nie – hulle het toe al profete nodig gehad om die gebeure vir hulle te interpreteer sodat die volk dit kan verstaan.

 

Vandag het ons natuurlik die Gees, wat ons help om te hoor wat die Here vir ons wil sê…