9 Julie 2020
- Josua
- Kernteks: “Wees veral sterk en baie vasberade in die uitvoering van die wet wat my dienaar Moses jou beveel het. Moet daarvan nie links of regs afwyk nie. Dan sal jy voorspoedig wees, waar jy ook al gaan. Hierdie wetboek moet die rigsnoer wees vir alles wat jy sê. Oordink dit dag en nag en sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan. Dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees. Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.” (Josua 1:7-9).
(By elkeen van hierdie boeke gaan ek ‘n teksvers aanhaal wat so min of meer die trant van die spesifieke boek verteenwoordig)
- Die Inhoud van die boek Josua:
Josua is waarskynlik die mees aksie-gevulde boek in die Bybel, en dit bestaan uit twee dele: Die eerste deel gaan oor die inname van die land Kanaän, en vertel hoe die groot stede soos Hasor en Jerigo verower is. Dit is deurspek met dramatiese wonderwerke (soos die lang dag van Gibeon) en is end-end baie bloeddorstig.
Die tweede (ietwat rustiger) deel speel af nadat die land verower en verdeel is. Josua is nou al ‘n ou man, en dit gaan eintlik baie goed met God se (redelik) gehoorsame mense.
- Josua self: Sy naam beteken “God verlos”. Dit was ‘n algemene Joodse naam, wat later in Grieks “Jesus” sou word. Van sy pa weet ons net dat sy naam Nun was, en niks meer nie. Met die terugrapport van die verkenners het hy al gewys dat hy standpunt kan inneem, en ‘n waardige opvolger vir Moses kon wees. Hy was ‘n goeie leier, wat sy mense met hom kon meeneem, en ook sterk geestelike leiding kon gee (vgl. 24:16-18). Hy was ook ‘n goeie spreker, wat met groot gesag sy mense kon toespreek.
Die Nuwe Testament verwys twee maal na Josua, in Hand. 7:45 en Hebreërs 4:8.
- Wie het die boek geskryf?
Die ou Joodse rabbi’s het geglo dat Josua dit self geskryf het, alhoewel dit nêrens so staan nie. Sekere dele is duidelik later ingevoeg (soos 4:9, 6:25, e.a.). Vandag vermoed ons dat die sg. “Deuteronomistiese skrywers” ‘n groep wat tydens die ballingskap mondelinge oorlewering neergepen het, dit in die 7e of 6e eeu v.C. geskrywe het, en heel waarskynlik ook nie alles gelyk nie.
- Waaroor gaan die boek?
Dit wil vir ons vertel dat God getrou gebly het aan sy verbondsbelofte aan Abraham, en in beheer was in hierdie spesifieke tyd in sy mense se geskiedenis. God is magtig en betroubaar – Hy hou sy beloftes! Die boek sluit dus nou aan by die eerste 5 boeke, sodat party teoloë selfs eerder praat van ‘n “Heksateug” van 6 boeke.
Baie belangrik in Josua is die temas van:
– Die land wat God belowe het, en nou vir sy mense gee;
– Die rus: God gee vir sy mense rus en vrede in hulle eie land;
– Die Verbond: ons moet dit nog alles verstaan i.t.v. die ooreenkoms wat God met sy mense aangegaan het en wat Hy getrou onderhou.
– Heiligheid: ‘n Baie belangrike tema: God se mense is anders as hulle heidense omgewing en moet so lewe!