17 Julie 2020

  1. Rigters

  1. Kernteks:

Maar die Here het leiers na vore laat kom en dié het die volk gered uit die mag van die mense deur wie hulle beroof is. Die volk het ook nie na hulle leiers geluister nie. Die volk was ontrou aan die Here en het ander gode aanbid en baie gou die pad van hulle voorvaders verlaat en ongehoorsaam geword aan die gebooie van die Here.” (2:16-17).

In daardie tyd was daar nog nie ’n koning in Israel nie, en elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë.” (21:25).

  1. Heeltemal ‘n ander soort boek as Josua:

Die boek Rigters betaan uit ‘n klomp losstaande vertellings, wat afspeel tussen 1300 en 1000 v.C. Die boek wat saamgebind word deur een tema: die ontrou van die volk teenoor die trou van God. Nadat Josua op so ‘n vredevolle noot geeïndig het, met sulke ernstige waarskuwings, skep Rigters die prent van absolute chaos op geestelike en politieke terrein. Al positiewe noot is die feit dat God tog die hele tyd getrou bly…

  1. Die Naam van die Boek:

Die naam “Rigters”, (in Hebreeus “Sopetim”) verwys na die twaalf leiers wat die volk tussen Josua en Saul gelei het. Interessant genoeg praat sowel die ou Griekse as Latynse vertalings eerder van “Regters”.

  1. Waar kom die boek vandaan?

Nêrens word ‘n skrywer vermeld nie. Heel waarskynlik is dit vroeg in die tyd van die konings neergeskryf en heelwat later gefinaliseer.

  1. Die Struktuur van Rigters:

Soos reeds vermeld, bestaan die boek uit losstaande episodes, wat min of meer soos volg ingedeel kan word:

    • Inleiding (1-2:5): Die volk vestig in die land ná die verowering daarvan.
    • Inleiding tot herhalende episodes (2:6-3:6): Telkens dieselfde foute….
    • Die 12 Rigters (3:7-16:31): Die hart van die boek.
    • Twee aanhangsels (17:1-21:25): wat die totale verval in die land aandui.
  1. Doel van die boek.

Die verhaal word vertel om ons te leer wat die gevolge van ongehoorsaamheid aan God is, en begin ons voorbrei vir die koms van ‘n koning wat die volk terug kan lei na die Here toe. Dis ‘n ontstellende verhaal, want dit gaan die heel tyd van erg na erger. Al vertel Rigters ons van die twaalf “helde” van die volk, is God eintlik die groot Held. Hy is die Een wat telkens uitkoms bring en red.

  1. Wyere agtergrond:

Die wêreld waarin Rigters afspeel, is oral gekenmerk deur chaos. Dwarsoor die wêreld het sosiale strukture in duie gestort, so erg dat daar gepraat word van ‘n mini-donker eeu hier aan die begin van die Ystertydperk. Griekse migrante (die sg. “See-volke”) het die probleem aansienlik vererger, omdat hulle goed bewapen was (hulle het al geleer yster smee, wat beter wapens as brons gemaak het), maar was ongelukkig heelwat minder beskaafd. Hulle het geweldig baie mense uitgewis.

  1. Wat leer Rigters ons?
    • Die tema van die beloofte land: uiteindelik kan die volk daar vestig, maar hulle ongehoorsaamheid maak dat dit maar ten dele hulle s’n word.
    • Verbond: Ongehoorsaamheid en die verbreking van die verbond lei tot straf…
    • God se trou: God bly regverdig en straf hulle ongehoorsaamheid, maar bly getrou aan sy beloftes.
    • Leierskap: Die volk het regtig ‘n goeie gelowige leier nodig. Dis tyd vir die Konings…