23 Julie 2020
- Rut
- Kerntekste:
“Maar Rut het geantwoord: “Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God; waar u sterf, sal ek sterf en daar sal ek begrawe word. Ek lê ’n eed af voor die Here: net die dood sal ons skei.” (Rut 1:16)
“Haar buurvroue het die seuntjie toe ’n naam gegee. Hulle het hom Obed genoem en gesê: “’n Seun is vir Naomi gebore.” Obed was die voorvader van Dawid.” (Rut 4:17)
- Samevatting:
Rut is seker een van die heel mooiste stories in die hele Bybel – so ‘n regte “feel good story”, waarin alles goed uitwerk vir die gelowige Rut. Dit dien vir ons as ‘n herinnering daaraan dat alles darem nie net in die Rigterstyd duister en chaos was nie. Daar was nog altyd mense in Israel wat lojaal, toegewyd en goed was. En natuurlik kom herinner 4:17 ons ook daaraan dat daar ‘n wonderlike nuwe koning op pad was vir God se mense!
- Wie was Rut?
Sy was gebore as ‘n Moabiet, wat toe met ‘n Jood getrou het en sy geloof vollediglik aangeneem het. Sy was ‘n voorsaat van Dawid, en daarby was sy een van net vier vroue (hulle was almal nie-Jode!) wat in Jesus se geslagsregister in Matteus vermeld word. Die Rabbi’s het geglo dat Samuel self die boek geskrywe het, maar as jy 4:7 lees, klink dit nie baie waarskynlik nie – dis eerder heelwat later geskrywe. Eintlik weet ons dus hoegenaamd nie wie die skrywer was nie.
Daar bestaan ‘n teorie dat die boek neergeskryf is uit reaksie op Nehemia se verbod op huwelike met vreemdelinge, maar ook dit klink nie baie waarskynlik nie. In die eerste plek klink dit regtig nie soos ‘n polemiese geskrif nie (dis eintlik in ‘n baie aangename trant geskrywe) daarby is dit waarskynlik baie ouer as dit. Daar is ook ander geleerdes wat meen dat dit geskrywe is om die sg. Lossingsreg te illustreer, maar dis ook maar ‘n raaiskoot – dis nie duidelik so uit die boek nie. En dan is daar natuurlik ook ‘n teorie dat die boek deur ‘n vrou geskryf is.
- Oor die boek Rut.
Dis ‘n kort boekie (maar 85 verse lank!) maar dit word algemeen beskou as ‘n meesterstuk van sy tyd. Dis ‘n kort, goed-gestruktureerde novelle, met ‘n goeie verhaallyn, duidelik getekende karakters, puik dialoog, en dit eindig op ‘n hoogtepunt. Dis ‘n hegte eenheid, behalwe miskien vir die geslagsregister van Dawid (4:18-22) wat baie geleerdes vandag meen heel moontlik later eers ingevoeg is. Op die ou end is dit ‘n pragtige werkie, wat vir ons vertel hoe God op pad is met gewone mense, om hulle deel van sy plan te maak, en so sy doel met ons te bereik.
Die ou Jode het Rut nog as deel van boek Rigters beskou, en dit gelees by die Fees van die Weke (Pinkster). Vandag sien ons dit as ‘n wonderlike inleiding tot Samuel se twee boeke.
- Wat sê Rut oor God?
5.1. God se heerskappy en bestendigheid: God is die Hoofkarakter van Rut – Hy word in 23 van die 85 verse by die Naam genoem! Hy bly getrou aan die verbond en die beloftes wat Hy daarin gemaak het.
5.2. Die verborgenheid van God: God werk in hierdie boek die hele tyd “agter die skerms”, sonder enige dramatiese ingrype of verskynings. God openbaar Homself subtiel in die fyNeré detail van ons daaglikse bestaan.
5.3. Inklusiwiteit: Rut maak dit baie duidelik dat God ook nie-Jode deel van sy volk maak en insluit in sy plan.
5.4. God en die konings: God se keuse van Dawid was nie sommer impulsief nie. Dit het ‘n lang aanloop, soos Rut vir ons verduidelik, veral as die heel laaste woord van die boek “Dawid” is…