31 Julie 2020
- I & II Samuel
- Kernverse: “Dié wat teen die Here in opstand kom, word vernietig, van bo uit die hemel verbrysel Hy hulle. Die Here spreek reg tot by die eindes van die aarde, Hy verleen krag aan sy koning, Hy gee sterkte aan sy gesalfde.” ( 1 Sam. 2:10).
“Dit is Hy wat aan sy koning groot oorwinnings gee en trou aan sy gesalfde betoon, aan Dawid en sy nageslag vir altyd!” (2 Sam. 22:51).
- Die Boeke van Samuel:
Die boeke van Samuel vertel die verhaal van hoe Israel se koningskap gevestig is, en wat die teologiese betekenis daarvan is. Die verhaal begin waar die volk totaal gedesentraliseer is in Rigters, en elkeen maak net soos hy wil, en dit eindig waar die grootste koning van Israel, Dawid, op die troon in Jerusalem sit. In die eerste boek kry ons die aanloop tot die koningskap. Die groot vraag is: Het Israel regtig ‘n koning nodig? Veral as God eintlik hulle groot Koning is? En dan vertel dit verder vir ons van die aanloop van Dawid se koningskap. Gaan hy dit ooit oorleef om koning te word? En dan handel die tweede boek oor Dawid se koningskap. En die hele tyd is die Filistyne steeds die bedreiging op die agtergrond.
Samuel: hy is die eerste hoofkarakter van die boek, en volgens Joodse gebruik, heet die boek dan na hom. Al lewe hy net tot 1 Samuel 15, bly sy invloed regdeur die boeke teenwoordig. Interessant genoeg was die twee boeke soos ons dit ken, aanvanklik een enkele boek, maar toe die Bybel in Grieks vertaal is het dit nie meer op een rol gepas nie (Grieks vat meer plek as Hebreeus wat nie klinkers het nie!) en toe is dit in 2 boeke gedeel. Dit was toe bekend as “1 & 2 Regerings”, terwyl 1 & 2 Konings as “3 & 4 Regerings” bekend was.
Ons weet ook nie wie die boek Samuel geskrywe het nie. Die Jode het gereken dit was Samuel, maar hy is al in 1 Sam 15 oorlede. Wat wel ook opval van die boeke, is die geweldige detail in gesprekke en beskrywings. Dit klink byna asof die skrywer ‘n ooggetuie van die gebeure was. Ander plekke lyk weer of dit heelwat later by die verhaal gevoeg is (bv. 1 Sam. 27:6). Dis ook opvallend dat baie stories twee maal vertel word: soos die verwerping van Saul, die ontmoeting tussen Dawid en Saul, en Saul word 2 maal gespaar deur Dawid, en Goliat word twee maal verslaan – deur verskillende mense! Al wat ons hiervan kan aflei, is dat die boek(e) ‘n samevoeging van verskillende mondelingse oorleweringe was. Die boodskap is egter deurlopend ‘n eenheid.
- Die betekenis van Samuel:
Een van die sterk temas in Samuel is die bedreiging van die Filistyne. Hulle was ‘n seevolk wat waarskynlik van Griekeland geïmmigreer het, en die Israeliete baie eeue getreiter het met hulle beter wapens (die dubbele boog, wat verder en meer akkutraat skiet, en hul strydwaens). Dawid het egter geleer om hulle in bergagtige gebied aan te vat, wat die strydwaens geneutraliseer het, en kon hulle so uiteindelik beslissend verslaan, sodat hulle daarna nooit weer ‘n faktor was nie.
Maar eintlik gaan die boeke van Samuel oor die koningskap. Die volk se eis om ‘n koning, die vestiging daarvan, die aanvanklike fiasko as Saul tragies misluk, en dan die voorspoedige regering van Dawid, tot met sy eindelike verval later jare. Die voor- en nadele van koningskap word die hele tyd duidelik geteken.
Internasionaal was dit ‘n stillerige tyd. Egipte se glorietydperk was aan die verbygaan, en die Hetitiese ryk het geval. Assirië sou eers ‘n eeu later onder Salmaneser 3 ‘n hoogtepunt bereik en ‘n nuwe bedreiging in die ou Nabye Ooste vorm
- Die teologie van 1 & 2 Samuel:
4.1. Die Teokrasie: Dawid is wel die koning, maar sy koningskap word gedra deur sy afhanklikeid van die eintlike Koning, naamlik die Here. Hy is in beheer!
4.2. God se Verbond: Die Here se verbond gaan voort, en word ook met Dawid gesluit, met die belofte van ewige koningskap, wat in die Messias waarheid word.
4.3. Sonde: is ongelukkig ook ‘n deurlopende tema, van Eli en sy seuns af, tot by Saul en uiteindelik ook Dawid…