6 Augustus 2020

  1. I & II Konings

  1. Kernverse:

“Die Here het Israel en Juda deur elke profeet en siener gewaarsku: “Bekeer julle van julle verkeerde paaie. Kom my gebooie en voorskrifte na volgens die hele wet wat Ek julle voorvaders beveel het, wat Ek deur my dienaars die profete aan julle gegee het.” Maar hulle wou nie luister nie…” (2 Konings 17:13-14a)

 

“Die Here wou Juda nie vernietig nie, ter wille van sy dienaar Dawid. Die Here het hom belowe om altyd iemand uit sy nageslag op sy troon te laat sit.” (2 Konings 8:19).

 

  1. Die Boeke van die Konings:

Op die oog af mag dit lyk asof hierdie twee boeke net ‘n redelik voorspelbare katalogus van die een goddelose koning na die ander is, maar daar is tog ‘n goue draad wat dwarsdeur die boeke van Konings loop: en dit is dat die eintlike Koning die hele tyd in beheer is, en dat Hy steeds getrou bly. In sy genade is God telkens bereid om te vergewe en weer van voor af met sy mense te begin. Daar bly dus altyd hoop vir God se mense, ten spyte van hulle omstandighede. Hulle moet egter na Hom luister, as Hy deur sy profete met hulle praat…

 

Aanvanklik was hierdie 2 boeke een enkele boek met die naam “Konings” (Later was hy as “3 en 4 Regerings” bekend). Dit beteken dat die boeke wat ons as Konings ken, eintlik aaneenkopend met 1 en 2 Samuel gelees moet word. Vandag is dit meerdere boeke, omdat dit doodeenvoudig te lank vir ‘n enkele boekrol was!

 

  1. Skrywer en inhoud:

Die rabbi’s het gemeen dat Jeremia die skrywer van die boeke was (dis opvallend dat Jeremia 52 en die slot van 2 Konings identies is). Wie dit ook al saamgestel het, het waarskynlik van ‘n wye verskeidenheid van bronne gebruik gemaak. Ons weet ook nie wanneer dit gebeur het nie, behalwe dat dit waarskynlik na 561 vC moes wees – want dis waar die storie eindig. Geleerdes meen vandag dat dit waarskynlik tydens die ballingskap op skrif gestel is.

 

Die vraag is hoekom die skywer soveel moeite gedoen het om die lig en donker tye onder die konings in so detail oor te vertel – was dit dalk om vir lesers te verduidelik hoekom die ramp van die ballingskap hulle getref het? Of wou hy maar net die storie van Israel se geskiedenis oorvertel? Dalk wou hy net die waarde van sondebelydenis en vergiffenis meedeel, om sy mense hoop te gee in ‘n donker tyd.

 

Wat nogal interessant is is dat die skrywer baie selektief te werk gaan met sy materiaal. So word baie aandag gegee aan iemand soos Elisa, oor wie daar geen buitebybelse getuienis bestaan nie, terwyl iemand soos Omri min aandag kry – terwyl ons baie van hom weet uit ander bronne as die Bybel.

 

  1. Die rol van profete in 1 en 2 Konings:

Die profete speel ‘n baie belangrike rol in hierdie verhaal. Dis hulle taak om die volk in te lig oor die wil van die Here. Daarom kom die frase “Só spreek die Here…” herhaaldelik voor. Al was hulle toe lankal oorlede, word Moses (1 Kon. 8:56) en Elia (2 Kon. 10:10) se profesieë opnuut bevestig. Van die profete word benadruk dat hulle deur God geroep is (hulle roepingsverhale word baie spesifiek vertel) en dat hulle eie integriteit bo verdenking moes wees, sodat hulle die koning kon konfronteer. Alhoewel hulle ook somtyds die toekoms voorspel het, was hulle eintlike rol om God se wil in die hede en huidige omstandighede bekend te maak.

 

  1. Die Teologie van die Konings-boeke:

Belangrike teologiese temas in hierdie twee boeke:

5.1. God se koninkryk en die Dawidiese koninkryk is één: God het gekies om sy koninkryk deur Dawid en sy nageslag te laat voortgaan, ook deur die Messias tot in ewigheid.

5.2. Genade en hoop: Die boeke lê geweldige klem op God se beloftes aan Dawid.

5.3. Voorwaardelikheid en onvoorwaardelikheid: God gee sy beloftes onvoorwaardelik en onverdiend, maar Hy kan dit ook terugtrek wanneer ons self ontrou is. God gee nie carte blanche aan die koning om te maak soos hy wil nie!

5.4. Die Verbond: Dit speel veral ‘n sterk rol in die verhale van Hiskia en Josia wat die verbond herstel het.

5.5. Oordeel en berou: God se verbond sluit ook ‘n oordeelsklousule in, vir hulle wat ontrou aan sy verbond is. Sy trou en genade sluit dus nie sy oordeel uit nie –  daarom eindig die verhaal in die ballingskap…