20 Augustus 2020

  1. I & II Kronieke

 

  1. Kerntekste:

“Wanneer jou tyd daar is om by jou voorvaders te rus, sal Ek een van jou nageslag, jou eie seun, koning maak en aan hom ’n bestendige koningskap gee. Hy sal vir My ’n huis bou en Ek sal sy troon blywend vestig. Ek sal vir hom ’n vader wees en hy sal vir My ’n seun wees. My trou sal Ek nie aan hom onttrek nie, soos Ek dit aan jou voorganger onttrek het. Ek gee hom ’n blywende plek in my huis en my koninkryk. Sy troon sal altyd voortbestaan.” (1 Kronieke 17:11-14)

 

“…en my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel.” (2 Kornieke 7:14).

  1. Inleiding:

Kronieke is eintlik ‘n fassiNerénde boek, met baie interessante vertellings en daarby ook verskeie eksegetiese uitdagings vir die dominee wat dit wil preek. Al kom amper helfde van die boek se inhoud ook in Samuel en Konings voor, is die res baie interessant. Uit ‘n teologiese perspektief is dit ewe interessant: dit dateer waarskynlik relatief laat, en daarom is die teologiese nadenke daarin baie meer verfyn as in die boeke wat dit voorafgaan. Die eerste boek begin met ‘n geweldige lang geslagsregister (NEGE hoofstukke!), maar as jy daardeur geworstel het, kom jy by die verhaal van Dawid; 2 Kronieke neem die verhaal dan verder vanaf Salomo.

 

Interessant genoeg was die aanvanklike titel van die boek “Paraleipomenon”, wat beteken “Dit was uitgelaat was” (uit die Konings), terwyl die Jode daarna verwys het as “Sake van die dag” (of Annale, maw Kronieke…) Volgens Joodse tradisie was die skrywer daarvan Esra, en dit klink nogal plek-plek baie soos die boek wat sy naam dra. Dis egter heelwat later eers op skrif gestel – heel waarskynlik tussen die 4e eeu en 200 v.C.

  1. Waaroor gaan die boeke?

Die boeke Kronieke vertel die verhaal van die verbond wat God met Dawid gesluit het en wat daarvan geword het, maar hierdie slag vir lesers wat heelwat later geleef het. In die proses moes die skrywer goed navorsing doen. Hy maak van heelwat bronne gebruik (hy noem 32 bronne by name) waarvan die meeste vandag nie meer bestaan nie. Hy noem spesifiek ook die boeke van Samuel en Konings as bronne.

  1. Die teologie van Kronieke:

Daar is verskeie belangrike temas wat in hierdie boeke voorkom:

4.1. Die eenheid van God se volk: Daar word herhaaldelik verwys na “die hele Israel”, met die klem daarop dat Israel toe alreeds een staat was. Hy doen dit selfs ook nadat die twee koninkryke verdeel het, asook in die ballingskap!

4.2. Dawid se koningskap: Dawid word geweldig positief geteken. Daar is geen sprake van sy sonde, of van die moeilikheid in sy huis nie. Hy word geteken as “die man na God se hart”, en hy oorheers albei die boeke.

4.3. Die Tempel: Die tempel speel ‘n geweldig belangrike rol. Dis die sigbare simbool dat God by sy mense is. Daarom word die voorbereidings en bou van die tempel in groot detail oorvertel. Die skrywer se definisie van wat ‘n Goeie Koning was, is een wat by die tempel betrokke was: mense soos Asa, Joas, Jotam, Hiskia en Josia.

4.4. Beloning en straf: Speel ‘n baie groot rol. Die verbond wat God met sy mense gesluit het, sluit nie net beloftes van seën in nie, maar ook dreigemente van straf vir ongehoorsaamheid. God beloon gehoorsaamheid en Hy straf ontrouheid. Berou en bekering maak egter al die verskil!

4.5. Die hart: Dis ‘n uitdrukking wat geweldig baie voorkom – altesaam 850 keer! Daar word telkens gesê dat iemand die Here “met sy hele hart” gedien het. Godsdiens is nie ‘n bloot uiterlike oefening nie!

4.6. Gebed: Gebed is so belangrik vir die skrywer, dat hy altesaam vyf gebede (almal deur “goeie konings”) in die boek insluit:

  1. Dawid se gebed van sondebelydenis: Klem veral op lof omdat God getrou       is.
  2. Dawid se gebed van toewyding: By die tempelwyding.
  3. Salomo se wydingsgebed: ‘n volwasse, betekenisryke gebed.
  4. Josafat se gebed: ‘n modelgebed onder bedreiging.
  5. Hiskia se gebed: Tree in vir sy mense.

4.7. Gesag van die Woord: Die skrywer probeer hard op die inhoud van die historiese boeke met die Pentateug te versoen. Dis deel van dieselfde Godsopenbaring.