28 Augustus 2020

  1. Esra-Nehemia

 

  1. Kerntekste:

“Esra het toe gesê: “Geloof sy die Here, die God van ons voorvaders! Hy het die koning die besluit laat neem om die tempel in Jerusalem so goed toe te rus, en Hy het my die goedgesindheid van die koning, van sy adviseurs en van al sy magtige amptenare laat geniet. Ek was vol moed. Die Here my God het sy hand oor my gehou. Ek het toe die leiers onder die Israeliete bymekaar laat kom om saam met my te trek.” (Esra 7:27-28).

“Onthou tog wat ek gedoen het, my God! Moet tog nie dat my liefdesdade wat ek vir die huis van my God en vir sy diens gedoen het, vergeet raak nie.” (Nehemia 13:14)

  1. Die Inhoud van die boeke:

Die boeke van Esra en Nehemia vertel ons van die heel laaste gebeurtenisse waarvan ons in die Ou Testament lees. Dit vertel van die volk se triomfantelike terugkeer uit ballingskap, en dan ook wat gebeur het toe eers Esra en dan later Nehemia daar by hulle aangesluit het. Dit vertel van die heropbou van die stad, en die feestelike herinwyding van die tempel. Dit vertel egter ook van probleme: die ondertrouery met heidene, wat baie spanning geskep het, die weerstand van die plaaslike mense teen die bouery, en die dwingelandy onder die Perse wat steeds voortgeduur het. Dwarsdeur lê die boeke geweldig baie klem op dissipline op geestelike gebied en godsdienstige verantwoordelikhede.

Dis belangrik vir die skrywer om te wys dat God steeds getrou is, en ook in hierdie tyd na die ballingskap, nie sy volk laat vaar het nie. Albei die boeke dra die naam van die persoon wie se “memoirs” dit bevat. In Bybelse tye was dit egter net een boek, met die titel “Esra”. Die ou Jode het geglo dat een persoon (Esra) albei boeke geskryf het. Vandag reken ons dat dit na alle waarskynlikheid twee verskillende skrywers was. Eers baie eeue later in die Christelike era het Origines die twee boeke geskei, sodat ons hulle vandag as Esra en Nehemia ken.

Ons weet almal dat die Ou Testament in Hebreeus geskrywe is. Die 7 briewe wat Esra in sy boek aanhaal, asook verskeie kort verhalende gedeeltes, is egter in Aramees. (Al ander voorbeelde van Aramees in die Ou Testament sal jy kry in Genesis 31:47 (net 2 woorde), asook in Jeremia 10:11 en Daniël 2:4b-7:28).

  1. Datering van die boeke:

Die gebeure in die boek kan baie akkuraat dateer word: die verhaal begin in 538 v.C. met die dekreet van Kuros, en strek tot by die voltooiing van die tempel in 515 v.C. Albei boeke is waarskynlik kort daarna op skrif gestel.

  1. Die Hoofkarakters:

4.1. Esra: Hy was ‘n priester, wat sy herkoms kon herlei vanaf Sadok, die priester in Dawid se tyd. Hy het ‘n opdrag van die koning gekry om die Jode te leer en die offerstelsel weer in te stel.  Hy was ook ‘n Skrifgeleerde, wat baie goed onderleg was in die wet. Hy was ‘n groot figuur, wat baie lank selfs as Moses se gelyke geag is. Hy kon ook by tye baie streng optree, soos met die reiniging van huwelike met heidense vroue.

4.2. Nehemia: het weer ‘n meer burgerlike opdrag van die koning gehad: hy moes die stad herbou. Hy was ‘n knap administrateur en organiseerder, wat mense kon mobiliseer vir hierdie groot taak. Hy was vol selfvertroue, maar tog ook diep gelowig en afhanklik van die Here. Hy kon egter by tye selfs meer kragdadig as Esra optree (13:25). Hy was ‘n deursigtige leier, wat ‘n wonderlike voorbeeld gestel het. Buitebybelse bronne vertel ons dat hy selfs in hierdie chaotiese tye ‘n biblioteek begin het in Jerusalem!

  1. Teologie van Esra en Nehemia:

Ons kyk weer na sleutelwoorde in die boeke:

5.1. God se mense: Israel word deurentyd geleer dat hulle steeds volk van God is, en dat hierdie eintlik hulle tweede eksodus was.

5.2. Eenheid: Onderlinge verbondenheid en verantwoordelikheid vir mekaar is verskriklik belangrik in albei die boeke.

5.3. Afgesonderdheid van God se mense: Om te kon oorleef, moes die volk waak teen besoedeling met die heidene om hulle.

5.4. Tempeldiens: Herstel van die tempeldiens staan sentraal in die boeke.

5.5. Die Woord: Die wet is gereeld voorgelees en onderrig aan die volk.

5.6. Gebed: Gebed is verskriklik belangrik in Esra en Nehemia.

5.7. Genade: “God se sterke / goeie Hand” word 9 x genoem. Hy sorg vir sy mense…