4 September 2020

  1. Ester

 

  1. Kerntekste:

“Die dertiende van die twaalfde maand, die maand Adar, het aangebreek. Dit was die dag waarop die besluit en proklamasie van die koning moes uitgevoer word, die dag waarop die vyande van die Jode gehoop het om hulle te oorweldig. Die omgekeerde het egter gebeur: die Jode het hulle vyande oorweldig.” (Ester 9:1)

 

“As jy nóú swyg en daar kom van ’n ander kant af uitkoms en redding vir die Jode, sal jy en jou familie omkom. Wie weet, miskien is dit juis met die oog op ’n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het!” (Ester 4:14).

 

  1. Inleiding:

Ester is een van die mooiste verhale in die Bybel. Dit vertel die verhaal van die Jode in die verstrooiing (“Diaspora”), met ander woorde dié wat na die einde van die ballingskap nie teruggekeer het na hulle land toe nie. Deur die eeue was daar Jode wat die boek só hoog geag het dat dit gelyk met die wet gereken is, maar iemand soos Luther het glo gesê: Ek is so negatief teenoor die Makkabeërboeke en Ester dat ek wens hulle het nooit bestaan nie. Hulle is net Joods-nasionalisties en bevat te veel heidense onbehoorlikheid.” Ons hoef egter darem nie so negatief oor die boek te wees nie: dit wys hoe God se mense kan triomfeer in moeilike omstandighede, en dit leer vir ons dat God dikwels subtiel lei. Daarby verduidelik dit ook die oorsprong van die Purim-fees van die Jode. Interessant genoeg, al was daar altyd vrae of dit regtig in die Bybel hoort, is dit nooit weggelaat nie.

 

  1. Ester:

Ester se naam kom 55 maal voor in die boek, maar nêrens anders in die Bybel nie. Ook word geen ander van die karakters êrens anders genoem nie. Ester se naam is afgelei van die Babiloniese god van die liefde (Ishtar, wat ook “ster” beteken). Sy is ‘n merkwaardige, sterk vrou, wat beslissend kan optree om haar mense te red.

 

Niemand weet wie die boek geskrywe het nie, alhoewel Josphus, die Joodse geskiedskrywer, gemeen het dit kan Mordegai wees. Dit speel af na Ahasveros se dood in 464 v.C. (want dit word nie vermeld nie), en kan dalk redelik vroeg gedateer word.  Al is daar verskeie besware teen historiese onakkuraathede, gee dit tog ‘n ingeligte, duidelike prentjie van die wêreld waarin dit afspeel. En dis ‘n baie mooi storie!

 

Interessant genoeg is Ester amper dubbeld so lank in die LXX (die Griekse verteling van die OT), maar daar word eintlik niks van waarde bygevoeg nie – dis eerder duidelike pogings om die verhaal meer “geestelik” te maak.

 

  1. Die teologie van die boek Ester:

Belangrike sleutelterme in die boek:

4.1. Voorsieningheid van God: God sorg vir sy mense – daarvan getuig die groot aantal “toevallighede” in die boek, dat Ester net mooi op die regte tyd op die regte plek is, dat die koning net mooi slapeloos is as Ester hulp soek, ens. God laat dinge gebeur soos dit sy plan pas!

4.2. Die Verborgenheid van God: Saam met Hooglied is dit al bybelboek wat nêrens God se Naam bevat nie. Vir baie (soos Luther) was dit ‘n aanstoot, maar wil dit ons nie juis leer dat God dikwels subtiel op die agtergrond werk, en dat menslike handelinge ook belangrik is nie? Interessant hoeveel akrostieke met God se naam al ontdek is in die boek: bv “Laat die koning en Hamman kom” (5:4) – die beginletters van elke woord in die sin spel JAHWE, “die Here”.

4.3. Koningskap: Toon op ‘n nuwe manier dat God eintlik die Een is wat oor sy mense regeer.

4.4. Samewerking met ander nasies: Jode KAN saamwerk met ander mense!

4.5. Purim: Dis al Joodse fees waarvan ons nêrens in die Pentateug lees nie. Dit was verseker die vrolikste van al die Joodse feesdae. Die Jode is selfs aangemoedig om op Purim te drink totdat hulle nie meer tussen “Lank lewe Mordegai!” en “Lank lewe Haman!” kan onderskei nie!