11 September 2020

  1. Die Profeteboeke

 

Die eerste groep Bybelboeke waarby ons stilgestaan het, was die eerste 5 boeke, bekend as die Pentateug. Daarna het ons gekyk na die Historiese Boeke, en van vandag af gaan ons na die derde groep boeke van die Ou Testament kyk: die Profetiese Boeke. Ons gaan eers net afskop deur vandag net inleidend daaroor te gesels, en dan veral ook oor die mense wat hulle naam aan die groep boeke gee: die profete.

  1. Wie en wat was ‘n profeet?

Mense sal verskillende antwoorde op hierdie vraag gee. Sommige mense sien die profeet as ‘n toekomsvoorspeller, “sieners” wat vir ons moet vertel wat in die toekoms lê. Ander beskou die profeet as ‘n groot denker of filosoof. Daarby is hulle (tereg) ook al kampvegters vir sosiale geregtigheid genoem, en natuurlik was hulle ook godsdienstige leiers. Eintlik is dit alles ‘n klein bietjie waar! Maar as ons die Hebreeuse woord “nabi’” van naderby bekyk, kom ons agter dit beteken “Een wat geroep is”.

Hy is geroep om die Woord van die Here in sy spesifieke situasie aan God se mense te verkondig. Hierdie woord word aan hom gegee – hy kan nie daarop aanspraak maak deur een of ander ritueel nie. En hy self is God se gawe aan sy volk, waardeur die Here help om sy verbond met hulle in stand te hou. Hulle is dus blote instrumente – God is die Handelende Een: Hy roep, Hy stuur hulle en Hy gebruik hulle. In die proses lê Hy beslag op hulle totale lewe (vergelyk maar vir Hosea!).

  1. Wat doen ‘n profeet?

Wat jou dadelik opval van die profetiese boeke, is die dringendheid daarvan. God roep hulle met geweldige erns, want dit gaan oor sy kinders, en verwag van hulle om hulle taak ook so uit te voer. Net soos Moses al destyds, verwag God van hulle om sy mense te help om binne die verbond wat God met hulle gesluit het, te bly. Hulle moes waak oor die suiwerheid van die volk se godsdiens, en gerig was om sy koninkryk al meer te laat kom. Die dringendheid word verder versterk deur die sterk klem op die wagtende oordeel… ‘n Profeet is dus gerig op sy situasie, en wat God hier en nou vir sy mense wil sê, maar hy is ook toekomsgerig.

  1. Die profeet se aanklag teen God se volk:

Teen die 8ste eeu v.C. was die volk in ‘n geestelike krisis. Hulle godsdiensbeoefening is toenemend besoedel deur heidense gebruike van die volke om hulle (sinkretisme), en hulle het hulle afhanklikheid van die Here verloor. Verstedeliking was aan die orde van die dag, en soos mense ekonomies sterker geword het, het uitbuitery toegeneem. Daarby het die opkoms van Assirië onder Tiglat-Pileser soos ‘n donker wolk oor die land gehang. Al hierdie faktore het gemaak dat Israel sy lewende verhouding met die Here verloor het…

Tog moes die profete nie net God se komende oordeel aan die volk verkondig nie, maar ook hulle herinner aan sy trou, en die vervulling van sy belofte. Hy sou self sorg dat daar ‘n “oorblyfsel” is, wat die verbond sou voortdra. En uit hulle sou die Messias eendag voortkom…

Volgende week staan ons stil by die vraag: Hoe moet ons vandag die profetiese boeke verstaan?