7 Mei 2020

  1. Die Pentateug.

Die eerste 5 boeke van die Bybel, Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium, word “die Pentateug” genoem. Die naam “pentateug” beteken letterlik “Vyf boekrolle” – alhoewel die Jode dit ook graag “die Wet” (Torah) genoem het.

 

Al gaan ons ook individueel na elkeen van die 5 Bybelboeke kyk, moet ‘n mens hulle tog ook eers vir ‘n oomblik saam bekyk. Na alles het die ou Jode hulle van die begin af as ‘n eenheid beskou, wat ‘n mens saam moet lees omdat dit eintlik één storie vertel. Daar loop sentrale boodskappe soos goue drade letterlik dwarsdeur al 5 boeke, wat hulle aan mekaar bind.

 

2.1. Waaroor gaan die Pentateug?

“It is the story of the birth and adolescense of a nation” het die teoloog Whybray die boodskap van die Pentateug opgesom, en dis presies wat dit is! Dit vertel die verhaal van God se mense, van waar alles begin het met die roeping van Abraham tot by die dood van Moses. Hierdie verhaal strek van waarskynlik so 1900 v.C. – 1250 v.C., met ander woorde, oor 6 eeue!). As geheel bekyk, is dit basies ‘n geskiedenisboek. Selfs die stukke wetkodes word in die storie ingevleg as deel van die verhaal van die volk.

 

Die Pentateug is egter nie soseer die storie van Israel nie – dis die storie van God! Hy is die Hoofkarakter van die verhaal, wat die inisiatief neem en alles laat gebeur. God is die Held van die Pentateug!

 

‘n Interessante uniekheid aan die Pentateug is dat daar vier verskillende name vir God gebruik word: Hy word genoeg Die Here (“Yaweh”), Almagtige (“El Shaddai”), Allerhoogste (“El Elohim”) of net God (“Elohim”). Presies hoekom, is moeilik om te sê. Maar as ‘n mens verstaan dat die Pentateug ‘n samevoeging van ‘n klomp verhale is, wat vir eeue mondelings oorgelewer is, is dit seker ook heel verstaanbaar.

 

2.2. Groot temas in die Pentateug:

Waaroor gaan hierdie vyf boeke? Ons kan 5 groot temas identifiseer:

 

  1. Uitverkiesing: God is die een wat kies: Hy kies individue en die volk Israel.

– Hierdie uitverkiesing bring belofte en verantwoordelikheid.

 

  1. Die Verbond: God gaan uit genade ‘n kontrak aan met Noag, Abraham en met die volk.

– God neem die inisiatief, en so leer ons Hom ken. Hy stel Homself bekend.

 

  1. Die Wet: Byna elke wet gaan eintlik oor naasteliefde.

– ‘n Positiewe noot: Verlossing kom vóór enige eise (Eksodus 20)!

 

  1. Die Uittog: ‘n Sleutel-tema in die hele Bybel: God verlos sy mense uit slawerny!

– As God ons uit Egipte kan red, kan Hy ook uit Babilon, of uit sonde (Golgota).

 

  1. Sonde: Die verhaal van God se mense is die verhaal van opstand en murmerering.

– Dis net genade dat God aan hulle getrou bly…

 

2.3. Indeling van die Pentateug:

  1. Proloog (“Voor-geskiedenis”): Genesis 1-11:

– Skepping, sondeval, tot by verstrooiing na toring van Babel.

– Geslagsregisters speel baie groot rol hierin.

  1. Patriarg-verhale (Genesis 12-50):

– Die verhale van vier geslagte van ‘n familie.

– God bly getrou aan sy beloftes wat Hy destyds aan Abraham gemaak het.

  1. Eksodus:

– Nou gaan dit nie meer oor die geskiedenis van individue nie, maar ‘n volk.

– Herhaalde trou en verlossing teenoor herhaalde ongehoorsaamheid en opstand.

  1. Deuteronomium:

– 4 groot toesprake van Moses op die vlakte van Moab

– Die afsluiting van ‘n fase…

 

2.4. Wie het die Pentateug geskrywe?

– Die tradisionele antwoord was Moses. Die Pentateug is die “Vyf Boeke van  Moses” genoem.

– Maar sou Moses self bv. Numeri 12:3 geskrywe het?

– En hoe sou Moses sy eie dood kon beskryf?

– Die punt is: ons weet nie regtig nie. Al wat ons weet, is dat die skrywer (Moses of iemand anders, of selfs ‘n span mense) ‘n merkwaardige man moes gewees het, om al die losstaande mondelingse oorlewering só in een boek te kon  saamvat!

 

Ten slotte, net weer Whybray se konklusie oor die Pentateug: “The Pentateuch is a kind of epic on a massive scale…”