24 September 2020
19. Jesaja
- Kerntekste: In die jaar van koning Ussia se dood het ek die Here gesien. Hy het op ’n baie hoë troon gesit, en die onderste van sy kleed het die tempel gevul. By Hom was daar serafs om Hom te dien. Elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy gesig bedek, met twee sy voete en met twee het hy gevlieg. Die serafs het mekaar telkens toegeroep: “Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.” Hulle het so hard geroep dat die deure in hulle kosyne gerammel het en die tempel vol rook geword het. Toe het ek uitgeroep: “Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lippe is onrein, en ek woon onder ’n volk van wie elke woord onrein is. En nou het ek die Koning gesien, die Here die Almagtige.” Een van die serafs het toe ’n gloeiende kool met ’n tang van die altaar af gevat en na my toe gevlieg. Hy het my mond aangeraak met die kool en gesê: “Noudat die gloeiende kool jou lippe aangeraak het, is jou oortredinge vergewe, jou sonde versoen.” Toe het ek die Here hoor vra: “Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?” Ek het geantwoord: “Hier is ek! Stuur my!” Toe het die Here gesê: “Gaan sê vir hierdie volk: Julle sal hoor en hoor en tog sal julle niks verstaan nie, en kyk en kyk en tog niks sien nie.” (Jesaja 6:1-9).
- Samestelling van die boek: Die boek Jesaja word tradisioneel in drie dele opgedeel:
2.1. Proto-Jesaja (1-39), wat voor die ballingskap afspeel, d.w.s. so 8e eeu v.C.
2.2. Deutero-Jesaja (40-55): wat tydens die ballingskap afspeel,
2.3. Trito-Jesaja (56-66): wat na die ballingskap afspeel.
– Vandag het die klem ietwat geskuif, en word hierdie verdeling nie meer so druk bespreek nie. Daar word nou eerder gepraat oor die literêre karakter en teologiese betekenis van die boek as eenheid.
– Die boek kan onderverdeel word in 2 hoofgedeeltes, wat weer elkeen op sy beurt uit 7 dele bestaan. Die verdeling is presies in die helfde: tussen hoofstuk 33 en 34.
– Die een tema wat dwarsdeur voorkom, en die boek saambind, is dié van die koningskap van die Here. Die gesig van Jes. 6 (sien hierbo) dra die hele boek se struktuur. In die lig van hierdie tema moet ons die verwysing na die verskillende konings (Ussia, Agas en Hiskia) verstaan, asook die voorspellings van die Messias.
– Jesaja is baie lief vir teenstellings: ongeloof teenoor geloof, oordeel teenoor heil, die eerste teenoor die laaste dinge, Israel teenoor die nasies, ens.
- Wie was Jesaja?
Sy naam beteken “Verlossing van Jahwe”. Hy het in die 8e eeu v.C. gelewe. Jesaja was die seun van ene Amos, en was getroud met ‘n profetes (8:3). Sy twee kinders van wie ons weet, het albei profetiese name. Die feit dat hy soveel invloed onder die adelstand gehad het, laat ons dink dat hy dalk self uit die adelstand gestam het, of dalk uit die priesterstand.
Na Jesaja se aangrypende roepingsvisioen tree hy langer as 40 jaar as profeet op. Sy hooftaak is om die sondige volk te konfronteer. Hy het heel waarskynlik ‘n skool profete om hom versamel. Opvallend is sy teenstand teen alle verdrae met heidennasies. Toe Hiskia sy raad volg, het hy sy triomf teen Sanherib beleef, maar na Hiskia se verdrag onttrek hy aan die politieke lewe. Kort daarna begin hy die val van die Dawidiese koninkryk verkondig en die koms van die Messias, Immanuel.
Jesaja is nie verniet die eerste profeteboek in ons Bybel nie. Hy was ‘n reus onder die profete. Om die “Lion Handbook to the Bible” aan te haal: “Niks ewenaar sy ontsagwekkende visioen van God en die heerlikheid wat op die volk van God wag nie”.