2 Oktober 2020
-
Jeremia
Kerntekste: “Die woord van die Here het tot my gekom: Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel. “Ag, Here my God,” het ek ge-antwoord, “ek kan nie goed praat nie, ek is nog te jonk.” Toe sê die Here vir my: Jy moenie sê: “Ek is te jonk” nie. Jy moet gaan na wie toe Ek jou ook al stuur, en alles wat Ek jou beveel om te sê, moet jy sê. Moenie vir hulle bang wees nie, want Ek is by jou, Ek sal jou red. Dit is wat die Here gesê het. Hy het sy hand uitgesteek, my mond aangeraak en vir my gesê: Ek het nou my woorde in jou mond gelê. Kyk, Ek stel jou vandag aan oor nasies en oor koninkryke om af te breek en uit te roei, om te vernietig en plat te slaan, te bou en te vestig. Die woord van die Here het tot my gekom: Wat sien jy, Jeremia? Ek het geantwoord: “Ek sien ’n amandeltak.” Die Here het geantwoord: Jy het reg gesien. Ek staan gereed om te doen wat Ek gesê het” (Jeremia 1:4-12)
- Samestelling van die boek Jeremia:
– Tradisioneel is geglo dat die boek deur Jeremia die profeet aan sy sekretaris Baruk gedikteer is nadat die koning Jojakim die oorspronklike kopie verbrand het. As ons vandag die teks mooi bekyk, blyk dit dat die ontstaansgeskiedenis van die boek na alle waarskynlikheid heelwat meer kompleks was: Die trant verskil plek-plek so dat dit lyk asof verskillende mense as redakteurs opgetree het, die taal en styl is ook nie deurlopend eenvormig nie, en die teks wat ons verdag ken, verskil nogal heelwat van dié van die ou Griekse vertaling van die Ou testament (Die sg. LXX).
– Vandag oordeel ons: dat die eerste 25 hoofstukke dalk uit Jeremia se pen kom (al kom daar ook styl- en aalverskille in voor). Dat die volgende gedeelte (Jer. 26-45) wat baie sterk biografies is, dalk uit Baruk se pen kom, en Dat die derde deel (wat veel meer poëties is) dalk uit heeltemal ‘n ander hand kom. Hierdie gedeelte is baie meer negatief en kondig die oordeel aan.
- Die Geskiedkundige agtergrond van Jeremia:
– Jeremia is waarskynlik in 626 vC geroep.
– Sy bediening strek oor die regeringstyd van verskeie konings.
– In daardie tyd oorheers die Babiloniërs die wêreldtoneel; hulle verower dan ook Jerusalem in 587/6 vC.
– Die Babiloniërs stel dan vir Gedalja as goewerneur in Jerusalem aan, maar hy word vermoor.
- Die Boodskap van Jeremia:
– Boodskappe van oordeel en heil word afgewissel dwarsdeur die boek.
– Die profeet probeer sin maak uit die moeilike tyd wat die volk tydens ballingskap beleef.
– Die profeet beklemtoon heeltyd dat die Here die enigste God is, en verwerp afgodsdiens soos dié van Baäl.
– ‘n Baie sentrale tema is dié van die verbond: God het ‘n ooreenkoms met sy volk aangegaan wat sekere eise aan hulle stel. Ongehoorsaamheid hieraan sal nie ngestraf bly nie. Dit lei tot die ballingskap. God gaan egter ‘n heeltemal nuwe verbond met sy mense sluit (Jer. 31). Menslike pogings kan nie die verhouding met God herstel nie; God doen dit self in sy genade!
- Wie was Jeremia?
– Daar is geleerdes wat beweer dat Jeremia ‘n fiktiewe karakter is, wat deur die skrywe van hierdie boek geskep is. Ons hoef dit egter nie so te aanvaar nie.
– Jeremia is in 650 vC in Anatot gebore, is in 629 deur God geroep en tree tot met die val van Jerusalem in 587 op – dus deur vyf konings se regeringstyd!
– Jeremia was nooit getroud nie.
– Opvallend is hoe dikwels hy rondom die tempel optree.
– Hy was nie bang om baie sterk te protesteer teen die onreg wat hy sien nie, selfs teenoor die koning. Daarom is hy deur koning Jojakim vervolg en later in ‘n put gegooi. Hy is daarna onder huisarres geplaas omdat hy so sterk uitgekom het oor sy standpunt dat Juda hom moes onderwerp aan Babilonië.
– Jeremia het ‘n felle stryd gevoer teen die valse profete.
– Hy het ‘n sekretaris gebruik wat later saam met hom vir sy lewe moes vlug: Baruk.
– Hy is later onder dwang saamgeneem deur sy eie mense wat na Egipte gevlug het, waar hy toe nog later deur hulle gestenig is.