16 Oktober 2020

  1. Daniël 
  1. Kerntekste: “Toe is die geheim aan Daniël ge-openbaar in ’n nagtelike visioen, en Daniël het die God van die hemel geprys. Daniël het gesê: “Mag die Naam van God altyd geprys word, Hy aan wie die wysheid en die mag behoort, Hy wat tye en omstandighede verander, wat konings afsit en konings aanstel, wat aan die wyse manne die wysheid gee en die verstand aan dié wat insig het, wat ondeurgrondelike en verborge dinge openbaar en wat weet wat in die duisternis is; by Hom is die lig. Ek loof en prys U, God van my voorvaders, omdat U aan my wysheid en mag gegee het. U het aan my bekend gemaak wat ons van U gevra het, U het aan ons bekend gemaak wat om aan die koning te sê.” (Daniël 2:1-6)
  1. Geskiedenis van die boek:

– In die Joodse Bybel is dit as deel van die historiese boeke beskou, en nie as ‘n profetiese boek nie. In die Griekse vertaling van die Ou Testament (LXX) is dit egter saam met die profetiese boeke gegroepeer.

– Daar is verskeie dele van die boek Daniël wat jy nie meer vandag in ons Bybel sal kry nie, aangesien hulle as apokrief beskou word. Dit sluit drie verhale oor Daniël se wysheid in, waarvan die bekende seker die verhaal van Susanna is, asook die verhaal van Bel en die draak en drie uitbreidings by Daniël 3.

– Interessant is dit dat die boek Daniël een van net twee boeke in die Ou Testament is wat nie uitsluitlik in Hebreeus geskrywe is nie. Daniël 2-7 is in Aramees (die destydse wêreldtaal) geskrywe.

– Ons kry baie interessante literêre vorme (genres) in die boek Daniël:

– Daniël 1-6: Hofverhale

– Daniël 7-12: Apokaliptiek (simbole en visioene oor die eindtyd wat deur ‘n engel verklaar word).

  1. Samestelling van die boek:

– Die eerste deel begin en eindig met die begin en einde van die ballingskap.

– Dis ‘n verhaal van konflik met die heidendom, waarin God se kinders triomfeer.

– Die tweede deel handel oor 4 opeenvolgende wêreldryke (waarskynlik Babilonië, Medië, Persië en Griekeland) wat nie teen God se heerskappy stand kan hou nie.

– Sluit ook die lotgevalle van Jode in die na-ballingskap era, onder Antiochus IV in.

  1. Wie is Daniël?

– Eintlik weet ons bitter min van hom.

– Hy is as seun deur die Babiloniërs weggevoer, waarskynlik net voor Esegiël en die eerste hoofgroep van ballinge.

– Hy het uit die adelstand (miskien selfs van koninklike afkoms) gekom.

– Dis duidelik dat hy uitsonderlik bekwaam en talentvol was.

– Hy was tegelyk ‘n uitsonderlike staatsman en profeet.