27 November 2020

  1. Obadja 

  1. Kerntekste: “Die openbaring wat Obadja ontvang het. So sê die Here my God oor Edom: Ons het ’n boodskap ontvang, en dit kom van die Here af. Daar is ’n boodskapper onder die nasies rondgestuur om te sê: “Maak klaar, kom ons gaan maak oorlog teen Edom!” Die Here het gesê: Edom, Ek maak jou ’n klein volkie onder die volke, jy sal glad nie meer gereken word nie. Jy is deur jou vermetelheid mislei, jy wat daar in die klipskeure sit, wie se woonplek hoog in die berge is, jy wat dink: wie sal my hier afkry grond toe? Al bou jy daar in die hoogte soos ’n aasvoël, al sit jy jou nes tussen die sterre, Ek sal jou daar afhaal, sê die Here.” (Obadja 1-4).
  1. Die boek Obadja:

– Dis die kortste boekie in die Ou Testament (net 21 verse!).

– Dis heel waarskynlik na die val van Jerusalem geskrywe.

– Dit verkondig God se oordeel teen Edom (Juda se bure in die Suid-Ooste, wat in die berglandskap woon en nasate van Esau was).

– Interessant is dat die eerste 10 verse woordeliks ooreenkom met Jeremia 49:7- 22. Dalk het hulle van dieselfde bron gebruik gemaak?

– Die Boek Obadja bestaan uit drie dele:

1. Inleiding

2. Oordeel oor Edom

3. Die dag van die Here.

Die boodskap van die boek Obadja: Obadja word geroep om die volk tydens die ballingskap te bemoedig, toe hulle van vyandige heidense volke omring was.  Veral die Edomiete was ‘n groot gevaar – en die ergste is, hulle was eintlik familie… Maar nou verseker Obadja die volk dat die geskiedenis in die hand van die Here is, en dat Hy eendag sal oordeel oor al die volkere, op die “Dag van die Here”.

  1. Wie was Obadja?

– Sy naam beteken “Dienskneg van die Here”. En dis al wat ons van hom weet!

– In die Joodse geskrifte (Talmoed) word hy beskrf as ‘n “amptenaar van koning Agab”.