14 Mei 2020
- Die Boek Genesis.
Die boek Genesis (lett. “Ontstaan”; die Jode het dit “In die Begin” genoem) bestaan uit twee dele: die voorgeskiedenis van die volk (Genesis 1-11) en daarna die verhale van die aartsvaders, wat vertel hoe God by sy mense betrokke geraak het. Daar is net soveel oor te sê, dat ons dit maar in twee aparte episodes sal moet hanteer!
3.1. Die Pre-historiese gedeelte (Proloog) – Genesis 1-11:
- Inleiding:
Die proloog is duidelik anders as die res van die boek – waar die tweede gedeelte ‘n deurlopende familiegeskiedenis vertel, is hierdie nie soseer ‘n samehangende verhaal nie, maar eerder ‘n aantal losstaande episodes wat deur geslagsregisters aan mekaar gekoppel is. Dit lyk asof hierdie gedeelte daarop gemik is om algemene wesentlike menslike vrae te beantwoord, vrae soos: Waar kom alles vandaan? Waarom is daar mans en vroue? Hoekom is die geboorteproses so swaar? ens.
Datering: Dis haas onmoontlik om te sê wanneer dit neergeskryf is. Dis eintlik tydloos!
Oorgang: Die inleidende deel van Genesis eindig met die verhaal van Abraham se pa, Tera, wat in Haran gaan bly. Dit vorm dan die oorgang na die res van die boek oor die aartsvaders, en is eintlik die inleiding van die tweede deel van die verhaal..
- Die Skeppingsverhaal (Genesis 1):
Hierdie is ‘n fassiNerénde begin vir die Woord van God, wat ons terugneem na die ontstaan van alles. Die moeilikste vraag oor die gedeelte van Genesis 1 is: Hoe moet ‘n mens dit lees? As jy na die teks kyk, is dit duidelik dat dit ‘n gedig is. Jy gaan dit dus verkeerd verstaan as jy dit letterlik lees, soos ‘n geskiedenisboek of ‘n wetenskaplike handleiding. Jy weet mos dis nie hoe mens ‘n gedig moet lees nie!
Hoekom sê ons dis ‘n gedig? Dis baie duidelik aan die vorm van die gedeelte, dat dit ‘n gedig is. Daar is ‘n opvallende herhalende, ritmiese struktuur. En dis kunstig omraam deur ‘n inleiding en ‘n slot (Vers. 1:1 met 2:4a). Een interessante stukkie trivia is dat alles volgens Genesis 1 deur die Woord geskep word, behalwe die mens – hy word “gemaak”. Wat dink jy kan die rede daaragter wees?
- Wat is Genesis 1 dan?
4.1. Dis ‘n Belydenis, sê Von Rad, wat vir ons leer hoe om na God en ons wêreld te kyk; dis eintlik ‘n stuk lofprysing!
4.2. Dit wil vir ons kom sê met watter doel alles (veral die mens) geskape is. God skep nie die mens omdat Hy hom nodig het nie.
4.3. Sosiale aspek van mens-wees beklemtoon: ons het mekaar van die begin af nodig, en lewe nou verbonde aan mekaar.
4.4. God se seën gaan saam met sy skepping: ook vir die mens wat Hy gemaak het.
4.5. Die sewende dag: God bou van die begin af ‘n werk-en-rus ritme in sy skepping in. Dis deel van sy seën vir ons en ons wêreld!
Wat dan nou van Ewolusionisme? Soos alles wat op ‘n –isme eindig, eintlik te ver gaan en daarom eintlik verkeerd is (dit sluit Kreationisme – die letterlike lees van Genesis 1 – in!), het Ewolusionisme ‘n moontlike kern van die waarheid beet, maar gaan dit doodeenvoudig te ver. Tereg is al gesê dat jy meer geloof nodig het om in Ewolusionisme te glo as in die skeppingsverhaal van die Bybel! Dit beteken egter nie dat dit nie ook elemente van die waarheid bevat nie. Wie van ons sou immers kon waag om vir God te sê hoe Hy (moes) geskep het?
- Die sondeval (Genesis 2:4b – 3:24):
Die verhaal van die sondeval lyk, as ons na die taal daarvan kyk, asof dit eerder later as vroeër neergeskrywe is. Met ander woorde die skriftelike weergawe daarvan is nie naastenby so oud soos Gen. 1 nie. Omdat dit terugreik in die newels van die geskiedenis, is daar baie vrae waarop ons nie antwoorde het nie: soos bv.: Verwys Adam en Eva na twee unieke indiwidue of is dit metafore vir die mensdom in die algemeen? ‘n Vraag wat ek self liewers nie sou wou probeer antwoord nie! (Onthou, Gen. 3 is steeds deel van die gedig waarmee die Bybel begin, en gedigte is dikwels oop vir meerdere interpretasies!). Ons weet nie regtig of dit gaan oor wat twee spesifieke mense aangevang het of oor wat die mensdom in die algemeen gedoen het nie – jy moet maar self besluit…
Wat wel glashelder is, is die besmetlikheid van die sonde. Dis opvallend dat ons in een enkele geslag beweeg vandat die idilliese prentjie van die tuin Eden tot by die eerste broedermoord… maar só besmetlik is die sonde. Heelwat moeiliker om te verstaan is die verwysging na die twee Bome van die Paradys: Dié van kennis (2:9) en dié van lewe (2:9 en 3:22). Albei is eienskappe van God wat die mens dalk graag sou wou hê. Maar eintlik moet ons erken ons verstaan eintlik niks meer as wat hier staan nie – en dan hoor ons eers in Openbaring 22:2 weer van hulle.
Dis opvallend dat die slang nêrens anders in die Ou Testament verskyn nie. Hy is ‘n raaiselagtige figuur. In daardie wêreld het mense slange met verwondering en vrees bejeën. Hulle het geglo dat hulle vir altyd lewe omdat hulle kan vervel en weer “nuut” word. Maar op die ou end is dit natuurlik nie die slag wat die laaste woord het nie, maar eindig die gedeelte op ‘n positiewe slotnoot met die geboorte van Set, en die hoop wat ‘n nuwe lewetjie bring…
- Die Sonvloed (Genesis 6-9): Vloedverhale kom baie algemeen in die Ou Nabye Ooste voor. Die sg. Gilgamesj-epos van Babilonië is die bekendste. Maar dit gesê, is die Bybelse vloed-verhaal tog in baie opsigte uniek:
- Die positiewe noot waarop die Genesis-verhaal eindig, met die teken van die reënboog, en die verbond met God se mense.
- Die totaal anderse manier waarop dit die godheid teken, as ‘n Vader wat getrou is aan sy belofte en op wie jy peil kan trek.
- Die treffende eenvoud en teologiese diepte van die verhaal.
Dis tog interessant dat daar op die oog af soveel teenstrydighede in die verhaal is, soos die aantal diere, die kronologie, ens. Waarskynlik is dit omdat die verhaal soos ons dit in die Bybel het, ‘n samevoeging is uit verskillende bronne – vandaar die verskille. Die boodskap word egter nie hierdeur geraak nie.
Het dit regtig letterlik so gebeur? Weereens, is hierdie geen geskiedskrywing in die moderne sin van die woord nie, en moet jy dit ook nie so probeer lees nie. Dis Woord van God, en die vraag is: wat wil die Here ons deur hierdie verhaal leer?
- Die toring van Babel (Genesis 11:1-9):
Met die verhaal van die toring van Babel bereik die verval van die mens sy hoogtepunt: Die mens wil soos God wees, en hy matig homself aan deur God se plan vir ons wêreld te probeer dwarsboom. Daar was natuurlik verskeie sulke veelverdieping-tempels in die Ou Nabye Ooste. Dalk wil die verhaal net vir ons verklaar hoekom die mensdom so uiteenlopend is, en so wyd verspreid woon.