5 Februarie 2021
- Habakuk
- Kernteks: “Hoe lank moet ek om hulp roep voordat U hoor, Here, moet ek by U bly kla oor geweld voordat U red? Waarom laat u my die onreg sien wat gedoen word, waarom kyk U toe as daar soveel ellende is? Oral rondom my is daar onderdrukking en geweld, en word daar getwis en gebaklei. Die wet het nie meer krag nie, en daar geskied nie meer reg nie. Slegte mense het die oorhand oor die goeies, en so word die reg verkrag.”
- Die agtergrond van die boek Habakuk:
– Dis baie moeilik om te weet wanneer Habakuk gelewe het of die boek geskrywe het, want daar word baie min konkrete historiese gegewens vermeld in die boek. Die verwysings na mense wat wel nog voorkom, is te vaag om hulle regtig te kan identifiseer en so die boek te dateer. Daarom verskil geleerdes nogal baie hieroor.
– Die verwysings na onreg pas dalk beste van alles in die regeringstyd van Jojakim.
- Die samestelling van die boek:
– Habakuk word somtyds “Die Probleemkind van die Klein Profete” genoem, en veral om twee redes:
- Dis omtrent onmoontlik om te weet hoe ‘n mens Habakuk 2:1-5 moet vertaal.
- Dis moeilik om te verstaan hoe hoofstuk 1-2 en hoofstuk 3 by mekaar pas. Tog is die boek gewoonlik as ‘n eenheid beskou.
- Die Boodskap van die boek Habakuk:
– In Habakuk word een van die grootste vrae van die teologie aan die orde gestel: die sg “Teodiseë-vraagstuk” (die vraag na waar die lyding in ons wêreld vandaan kom). Die vraag is: Hoekom gaan dit so sleg met gelowiges terwyl dit lyk asof dit met ongelowiges so goed gaan? In hierdie opsig sluit Habakuk eintlik baie nou by die boek Job aan.
– Habakuk bied egter geen eenvoudige antwoord op hierdie vraag nie, waarskynlik omdat daar nie een is nie!
– Sy raad is: Wag net op God. Hy sal op sy tyd en manier die probleem oplos!
– So beweeg Habakuk van ‘n geloofskrisis na geloofsvertroue.
- Wie was Habakuk?
– Daar word gedink dat hy dalk ‘n sg kultiese- of tempelprofeet was, op grond van die oorsprong van die klag, die verwysing na die tempel (in 2:20) en musiekintrumente (3). Dit word egter deur net soveel geleerdes betwyfel.
– Eintlik weet ons heeltemal niks oor Habakuk as persoon nie.