11 Maart 2021
-
Die Wysheidsliteratuur: i. Psalms
(Hierdie inleiding was deel van die Bybelstudieboek wat ek vir die Seniors en ander groepe opgestel het oor Psalm 1-50. Dis gebaseer op dr Coenie Burger se Opstel oor die Psalms in die inleiding van “Woord teen die lig II/4: Riglyne vir die prediking oor die Psalms”)
- Kernteks: “Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie, maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink.” (Psalm 1:1-2).
Ons het ons bespreking oor die boeke van die Ou Testament destyds begin met die metafoor van ‘n biblioteek, wat vol rakke met verskillende soorte boeke is. Daar is geskiedenisboeke, bibliografieë, wetboeke, profesieë, en poësie. En dan is daar natuurlik dit wat as die “Wysheidsliteratuur” bekend staan, omdat dit gebruik is in opvoeding. Dis nou boeke soos die Psalms, Spreuke, Prediker, en Hooglied. En dis hierdie rak vol wysheidsliteratuur waarby ons ten slotte gaan stilstaan…
- Waaroor gaan die Psalms?
– Die Christelike lewe is baie meer as net ‘n stel reëls om te gehoorsaam. Dis ‘n lewe elke dag saam met God – in sy teenwoordigheid (of “Coram Deo” soos dit in die teologie bekend staan). Jesus het deur sy kruisdood dit vir ons moontlik gemaak om elke dag saam met God (“In die aangesig van God”) te lewe.
– Dis waaroor die hele Bybel gaan. Maar dis veral die Psalms wat ons leer om naby aan God te lewe. Waar die res van die Bybel baie praat oor God, dikwels in die derde persoon, praat die Psalms meestal met God. Gelowiges deel met ons hul persoonlike ervaring van en met die Here. Coenie Burger sê: “Die Psalms roep ons altyd van ‘n ‘Praat-oor-God-godsdiens’ na ‘n ‘met-God-praat-godsdiens’.”
– Verder leer die Psalmboek ons ook dat godsdiens nie ‘n swaarmoedige, beklemmende saak is nie, maar dat ons juis naby aan die Here onsself kan wees, weer regtig mense kan wees, soos Hy ons gemaak het om te wees.
– Die Psalms maak geen geheim daarvan dat die lewe nie altyd net positief en lekker is nie. Dit het dikwels ook sy donker kante. Daarom is daar lofpsalms, maar ook klaagpsalms in die bundel. Ons leer om ook die swaar van ons lewe in die teenwoordigheid van God te kan dra, deur dit met Hom te deel.
– Maar veral leer die Psalms ons dat die lewe in God se teenwoordigheid ‘n lewe van lof is. Ons hele lewensdoel is om God te loof vir alles wat Hy is en alles wat Hy doen – maar dit kan alleen as ons totaal oorgegee aan Hom lewe!
- Soorte Psalms:
– Baie mense dink jy kan ‘n Psalm net verstaan as jy weet uit watter agtergrond dit kom. Daar bestaan vele ingewikkelde teorieë oor die situasie waarin die Psalms ontstaan het, en hoe dit bepaal hoe ons die Psalm moet verstaan.
– Persoonlik verkies ek dat dit nie my fokus word nie. Na alles is die Psalms Woord van God – en ons groot vraag is eerder wat die Here vandag deur sy Gees vir ons daarmee wil sê, as wat ons die geskiedenis van elke Psalm in detail wil probeer navors (wat in elk geval meestal ‘n onbegonne taak is!)
- Die Psalms en Jesus:
– Ons bely dat die hele Ou Testament vooruitwys na die koms van Jesus. Ook die Psalms moet ons so lees. Dr Burger noem dit “die Christologiese verstaan van die Psalms”.
– Ons moet egter nooit die Psalms lees asof dit in die Nuwe Testament staan nie. Dan raak dit bietjie geforseerd – ons moet ‘n Psalm eerste van alles in sy eie verband verstaan. Die hele Bybel gaan wel oor Jesus, maar ons kan nie die konteks van die Psalms ignoreer of die feit dat dit in ‘n spesifieke tyd ontstaan het nie. Met ander woorde: ons moet verantwoordelik omgaan met die Psalmboek, as deel van die Woord van God. Net só gaan dit ons leer om elke dag met oorgawe in die teenwoordigheid van God te lewe…