23 Julie 2021

  1. Spreuke.

  1. Kernteks:

Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie. Ken hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop. Moenie dink jy het die wysheid in pag nie, dien die Here en vermy wat sleg is…” (Spreuke 3:5-7).

  1. Watter soort boek het ons hier?

Die boek Spreuke praat oor die praktyk van die lewe van ‘n gelowige – nie soseer oor die ernstige goed wat die wet aanspreek, soos afgodery, diefstal en moord nie, maar oor alledaagse gedrag. Dit praat met daardie vrou wat net doodeenvoudig geneig is om te veel te praat, daardie oggendmens wat almal om hom irriteer, en daardie kuiergas wat langer bly as wat hy regtig welkom is. Dit meet ons gedrag aan die een belangrike norm: is dit wysheid om dit te doen of nie?

 

Hierdie wysheid is egter teologies gegrond: dis net as jy die Here dien en deur Hom gelei word, dat jy regtig wysheid toon. Wysheid is dus veel meer as slimheid. Dis ‘n bo-natuurlike kwaliteit wat die Gees in ons kweek. Menslike wysheid (vlg Genesis 3:6) lei net tot dwaasheid en ondergang. As ons dus Bybelse wysheid wil defineer, behels dit die insig om God se wil te doen in ons praktiese lewe van elke dag. Wysheid is dus geen teoretiese filosofie nie – dis ‘n uiters praktiese lewenswyse!

 

In ons Bybel word Psalms, Spreuke, Prediker en Hooglied as “Wysheidsliteratuur” geklassifiseer, asook Job, maar eintlik kan jy die hele Ou Testament daar by reken. En in die Nuwe Testament kom leer Jesus ons eintlik eers wat wysheid regtig is!

  1. Waar kom die Spreukeboek vandaan?

Dis duidelik dat dit ‘n bloemlesing van die wysheid van baie verskillende mense is, van wie sommige se name hier voorkom: Salomo, Sagur en Lemuel. Daarbyi is ten minste een deel van die boek anoniem. Salomo word as aanvanklike outeur geïdentifiseer, en die eerste 22 hoofstukke word hoofsaaklik aan hom toegeskryf.

 

Dis duidelik dat die Spreukeboek ook as handboek bedoel was om jong mense toe te rus, sodat hulle reg sal kies tussen dwaasheid en wysheid. Oor die algemeen voel geleerdes dat hierdie soort wysheid ‘n latere ontwikkeling onder die Jode was, maar dis tog duidelik dat baie van die inhoud duidelik baie oud is – heel moontlik terugdateer tot by Salomo self. Die samevoeging en redigering van die boek het uit die aard van die saak eers later gebeur.

  1. Spreuke en die Nuwe Testament:

In 1 Korintiërs 2 kom gee Paulus nuwe betekenis aan die term wysheid, wanneer hy Jesus self identifiseer as die Wysheid wat van God kom. In die proses wys hy alle wysheid wat menslik van oorsprong is, af. Wysheid is iets wat jy het as jy deur die Gees van God gelei word. Dan alleen kan jy lewe soos God vra.