13 Augustus 2021
-
Hooglied
Kernteks: “Soen my, soen my weer en weer! Jou liefkosings is beter as wyn” (Hooglied 1:2).
- Die Boek Hooglied:
Die Hebreeuse titel van die boek (“Lied der liedere”) gee al klaar ‘n aanduideling dat hierdie ‘n baie besonderse lied gaan wees. Dis eers heelwat later (eers na Luther se tyd) wat die boek as “Hooglied” bekend geraak het.
Van vroeg af was die inhoud van hierdie boek vir die kerk bietjie van ‘n verleentheid – dit praat darem net té eksplisiet oor goed wat ons liewer nie sommer so in die geselskap noem nie! Daarom is die boek gewoonlik “vergeestelik” – daar is met groot erns beweer dat dit hoegenaamd nie gaan oor die verhouding tussen ‘n man en ‘n vrou nie, maar wel oor die verhouding tussen Christus en sy kerk. En dit klink baie vroom, maar beteken dit dan dat die Bybel eintlik vir ons niks te sê het of niks te sê mag hê oor die seksuele, wat so ‘n belangrike deel van ons bestaan is nie? En buitendien – jy hoef regtig nie veel daarvan te lees om agter te kom dis NIE regtig waaroor Hooglied handel nie!
Hooglied is ‘n liefdeslied. Dit word om die beurt deur ‘n man en ‘n meisie vir mekaar gesing. En in die proses leer dit vir ons iets geweldig belangriks: ons seksualiteit is nie verkeerd of sleg nie. Dit deel van wie ons is en hoe die Here ons geskape het, en daarom het die Bybel iets daaroor te sê. Trouens, Hy wil inderdaad dat ons dit tot sy eer beleef! En daarom val dit ook binne sy koningskap oor ons lewe. Die Here het dit vir ons gegee, en Hy gun dit vir ons, maar Hy het ook iets te sê oor hoe ons dit moet belewe.
Eintlik is dit regtig die soort boek waaroor jy eintlik so min as moontlik behoort te sê. Jy moet dit eerder gaan deurlees. Gaan beleef daarin, dat dit tot eer van die Here is as ons opgewonde raak oor mekaar, en mekaar se teenwoordigheid ook fisies geniet. Daardie tannie wat baie jare gelede vir my gesê het dat daar drie dinge is waaroor ons nooit in die kerk mag praat nie, naamlik geld, politiek en seks, was duidelik nie heeltemal reg nie…! Sy moes dalk weer ‘n slag Hooglied gaan lees…