21 Mei 2020

  1. Die Boek Genesis (2):

Genesis is nie die soort van boek waaroor jy sommer in een gesprek alles gesê kan kry nie. Verlede week het ons oor die eerste deel gesels, wat as die “Voorgeskiedenis” bekend staan, wat vertel van die skepping, die sondeval, en die groot vloed. Dis die gedeelte waarvan ons gewoonlik sê dat dit einlik een groot gedig is.

Vandag kom ons dan by die tweede deel van Gesesis. Dadelik, kom jy agter, verander die trant bietjie, as die Bybel ons die verhaal van Die Aartsvaders vertel (Genesis 12-50). Dis eintlik een uitgebreide familiegeskiedenis van die ou stamvader Abraham en sy seuns. Dis seker nie vreemd dat hierdie verhale vir die Jode geweldig belangrik was nie, dit was vir hulle die verhaal van die onstaan van hulle as volk. Gevolglik het hulle hierdie tweede gedeelte van Genesis altyd “Die Vaders” genoem. Vir baie eeue is dit van geslag tot geslag mondelings oorvertel, totdat die verhale op die ou end tydens die ballingskap op skrif gestel is.

  1. Waaroor gaan hierdie boek? Die Hooftema daarvan is in ‘n neutedop: Die verbond. Dit vertel die verhaal van die ooreenkoms (kontrak) wat God uit genade met Abraham aangegaan het, waardeur Hy Homself aan hom en aan sy nageslag verbind het. Soos God aan Abraham sê wanneer Hy in Gen. 12:1-2 hierdie ooreenkoms met hom aangaan, is hierdie ‘n ewige verbond en word dit van geslag tot geslag oorgedra. En dis hierdie verhaal wat ons hier lees.

Natuurlik is daar ook ‘n element van spanning in die onvervuldheid van die beloftes van God: wat God belowe het, is nie altyd onmiddelik in die werklikheid sigbaar nie, en dis waar geloof inkom. Al God se beloftes word nie sommer dadelik waar nie. So bly Abraham-hulle vreemdelinge in die land wat aan hulle belowe is, tot sy dood toe, en ook die belofte van ‘n groot nasie wat vir ander tot seën is, bly onvervuld… Selfs aan die einde van die boek, wanneer  Josef in Egipte in ‘n kis geplaas word, het dit steeds nie alles waar geword nie. Selfs dan nog, is God se mense ver van die land wat Hy vir hulle belowe het.

 

3.Die Verskillende Aartsvader:

3.1. Abraham (Genesis 12-25): Hy leer ons wat geloof is.

As die oudste van die verhale, is dit seker nie vreemd dat dit ook die mees fragmetariese van al die verhale is nie; dis eintlik ‘n klomp losstaande episodes. Dit vertel hoe Abraham deur die Here geroep is om te glo in dit wat hy (nog nie) kan sien nie: dis wat geloof is! Dit wat die Here vir hom toe sê, is nog nie een tasbaar nie: die Here belowe aan hom en Sara ‘n groot nasie as nasate, terwyl sy (ou)vrou steeds kinderloos bly… Maar ook dít leer ons iets van geloof: Geloof bevat altyd ‘n element van spanning: dit bly altyd in die lewe onvervuld… Daarom impliseer geloof onvoorwaardelike vertroue en gehoorsaamheid. Aan die anderkant word Abraham self al reeds tydens hierdie verhaal ‘n seën vir ander: gaan lees maar weer die verhaal van Sodom.

 

3.2. Isak (Genesis 21-27): Die “Onbekende” Aartsvader.

Eintlik is Isak die bekensdste vir die feit dat hy as kind amper geoffer is. Al wat meeste mense verder van hom weet is dat hy later sy een seun voorgetrek het, en dat dit baie moeilikheid veroorsaak het. Maar neem gerus die tyd en gaan lees weer sy geweldige getuigskrif in Genesis 26:28-29. In Hebreërs 11 word hy ook as geloofsheld voorgehou (alhoewel daar ook maar nie veel van hom gesê word nie!).

 

3.3. Jakob (Genesis 25-49): Die Aartsbedrieër word ‘n Aartsvader.

Met die geskiedenis van Jakob kom ons by ‘n heeltemal andersoortige vertelling. Dit val op dat die verhaal baie meer geïntegreerd en samehangend (baie meer modern!) is. Die tekening van Jakob se persoonlikheidsontwikkeling word ook baie duideliker (eintlik fassiNerénd) geteken. Eintlik so jy die boodskap van die Jakob-verhaal in een sin kon saamvat: Die verskil wat God aan ‘n mens se lewe maak. Want dis mos wat met Jakob gebeur, daardie nag by Jabbok se drif, wat sy hele lewe verander. En tog bly die skaduwee van onvolmaaktheid maar oor Jakob se lewe hang, omdat die geskiedenis homself tot ‘n groot mate ook in sy eie seuns herhaal…

 

3.4. Josef (Genesis 37-50): Die Hoogtepunt van die Ou Testament se letterkundige skat.

Hierdie word onteenseglik as die heel beste kortverhaal (Novelle) van sy tyd beskou: inderdaad ‘n meesterstuk! Die verhaal is ‘n wonderlike eenheid, behalwe dalk vir hoofstuk 38 wat klink asof dit dalk later ingevoeg is, en wat geen verband met res van boek het nie. Die tema van die Josef-verhaal is dat God vir Josef kies, die elfde seun, om erfgenaam van sy verbond te wees, en selfs onder moeilike omstandighede getrou bly aan sy verbond. Die erfgenaam van God se belofte word weereens bedreig maar wonderlik verlos deur God! En so leer Josef ons om aan te hou te glo ten spyte van teenspoed, al verstaan jy niks nie – totdat die lig eendag vir jou opgaan (Gen. 45:5-8)! En met sy laaste woorde bring Josef ons terug na die tema van die Verbondsbeloftes en die land wat God vir sy volk gaan gee.