20 Augustus 2021
-
Job
- Kernteks: “Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê,maar nou het ek U self gesien, 6en nou verag ek myself, nou sit ek vol berou, in sak en as.” (Job 42:5-6)
- Die Boek Job:Job is niks minder as ‘n literêre kunswerk nie. Sy kontruksie is weldeurdag (die getal 4 speel ‘n baie belangrike rol daarin). Dit is deel van die Wysheidsliteratuur van die Bybel – met ander woorde, daardie boeke in die Bybel wat ons wil leer hoe om prakties te lewe as gelowiges (soos Psalms, Spreuke, Prediker en Hooglied ook).
- Samestelling van die boek Job: Die boek bestaan uit drie dele, waarvan die middelste deel op sy beurt in twee dele uiteenval (weereens, vier dele!). Die eerste deel (hoofstuk 1-2) is die Proloog, wat in die hemel afspeel. Dit gee vir ons die agtergrond van die gesprek wat sal volg. Die duiwel oortuig die Here om sy kind Job te toets, om te kyk of sy geloof die toets kan deurstaan.
Die tweede deel (hoofstuk 3-27) is die gesprekke wat daarop volg. Job is platgeslaan deur sy teenspoed, en probeer daaruit sin maak. Sy vriende wat hom kom moed inpraat, is niks anders as Jobstroosters nie. Hulle probeer hom oortuig dat dit eintlik alles sy eie skuld is, en dat God geensins by ons lyding betrokke is nie, en nie daarvoor blameer kan word nie. Job kan egter nie dit aanvaar nie, want dis nie hoe hy sy Vader ken nie. Weereens, is die gesprekke in groepe van 4 ingedeel. Eers is daar die vier gesprekke met sy vriende (3:1-31:40) en daarna vier toesprake van Elihu (32:1-37:24).
Ten slotte kry ons die epiloog, waarin Job herstel word en dit met hom baie goed gaan (38:1-42:6). Net soos die inleidende gedeelte uit twee gesprekke bestaan het, bevat hierdie gedeelte ook twee gesprekke van God met Job (weer vier!). Dis veral in hierdie gedeelte waarin Job sy geweldige teologiese dieptepunt vind.
- Jy en Job: Een van die redes hoekom ons mense nie baie graag Job lees nie, is omdat hulle sukkel om dit te verstaan. Die tipe argumente wat in Job se tyd aan die orde was, klink nie vir moderne ore so vreeslik relevant nie. Daarby weet ons nie lekker wat om met die inleiding te maak nie. Moet ons dit letterlik verstaan? Met ander woorde, speel God regtig (met respek gesê) speletjies oor sy kinders se welsyn met die duiwel?
Persoonlik voel ek baie oor daardie deel van Job soos ek oor die verhaal van Jona voel. Dis vir my duidelik dat dit nie vir ons as ‘n stuk letterlike geskiedskrywing aangebied word nie. Ek kan my nie voorstel dat die duiwel ewe rustig praatjies sal staan en maak met God in die hemel nie – dit strook tog nie met wat die res van die Bybel vir ons vertel nie! Nee, jy moet die hele tyd onthou dat dit wysheidsliteratuur is hierdie – ‘n stuk poësie wat vir jou wil leer om as gelowige te lewe.
En dit doen die boek Job briljant! Die saak wat dit aan die orde stel, die vraag na lyding in die lewe van ‘n gelowige (die sg. Teodiseë-vraagstuk in die teologie) is so oud soos die teologie self. Dis ‘n vraag waarmee gelowiges vandag nog daagliks worstel. Slim vrae en maklike antwoorde help nog steeds nie veel nie. Maar in jou lyding kan jy ook net vir God leer ken soos nog nooit vantevore nie…
En as die middelste deel van die boek vir jou bietjie gedateer klink, lees dan net die laaste twee gesprekke van God met sy kind. Dit slaan telkens my asem weg!