28 Mei 2020

  1. Die Boek Eksodus:
  1. Tema en agtergrond:

Uiteindelik het ons by die tweede boek van die Bybel gekom! Hierdie is ‘n epiese werk: in hierdie boek het ons niks minder nie, as die storie van die geboorte van ‘n nasie. Die verhaal speel af omtrent 300 jaar na Josef se dood (dit beteken die Jode was altesaam omtrent 370 jaar in Egipte). Dit beteken verder ook dat “die nuwe koning in Egipte” van wie ons hier lees, waarskynlik Sesthos 1 was – en hy was juis bekend daarvoor dat hy baie nuwe bouprojekte aangepak het. Egipte was in dié tyd sterk en verenig, en ons weet ook uit Egiptiese bronne dat farao Ramses 2 al vreemdelinge in die land in taakspanne opgedeel het om klei uit te grawe en bakstene te maak.

 

  1. Opset van die boek: Die naam van die boek Eksodus sê al klaar waaroor dit gaan: Dit beteken letterlik “die pad uit” – of dan nou, Die Uittog. In jou Bybel is Eksodus, Levitikus en Numeri vandag drie aparte boeke, maar aanvanklik was hulle één boek, met geen breuk tussen hulle nie. Dis een storie! Die boek(e) lees lekker, want minstens ‘n derde van die bundel van 3 boeke bestaan uit narratief (m.a.w. storie); die res daarvan bestaan uit wette en instruksies.

 

  1. Moses:

Daar kan gee twyfel wees oor wie nou eintlik die hoofkarakter van al drie boeke is nie. Dis Moses! Hy is ‘n merkwaardige figuur, en in hom kan ons al die vereistes van ‘n goeie leier sien. Hy is tegelyk heerser, leier, militêre aanvoerder, wetgewer en regter, asook priester. Hy is waarskynlik die belangrikste figuur in die Ou Testament. Tereg word hy beskryf as die Middelaar van die Ou Verbond: Hy is die tussenganger tussen God en mens. In later jare het Moses as figuur net mettertyd al belangriker vir die Jode geraak. Veral na die ballingskap is hy gesien as hulle volkstigter en was hy vir hulle baie belangrik.

 

Moses se geboorte: In Ou Testamentiese tye word ‘n nuwe fase in die volk se geskiedenis dikwels ingelei deur ‘n bo-natuurlike geboorte (vgl. Bv. Isak wie se ouers al bejaard was, Jakob en Esau, wat van geboorte af in stryd was, en mense soos Isak en Jakob se Goddelik bestemde huwelike). Al met Moses se geboorte kan jy weet: hier kom ‘n ding!

 

Sy Roeping: Dis baie belangrik om raak te sien dat dit God is wat die inisiatief neem, en vir Moses roep as hy dit glad nie verwag nie. Reg van die begin af, maak God geen geheim daarvan dat Hy hom vir ‘n geweldige moeilike taak roep.

 

Die Plae: Een ding wat ons (en farao!) hieruit leer, is dat selfs die magtigste ou in die wêreld nie in die pad van God se plan kan staan nie! Tog is dit ook opvallend hoe groot God se genade ook is: Hy probeer eers minder ekstreme plae. Eers as farao nie luister nie, volg die ergeres. Maar selfs wanneer farao se hart verhard, bly dit God  wat in beheer is, nie farao nie, en die godsdiens en towenaars van die Egiptenare speel ‘n al kleiner rol.

 

Die wonder by die Rietsee: Die see was vir die Jode in die Ou Nabye Ooste ‘n bose mag wat vrees inboesem (anders as die Fenesiërs het hulle dit nooit op die oseaan gewaag nie!). Maar hier wys God egter vir hulle dat selfs die see Hom moet gehoorsaam! ‘n Interessante vraag hier is natuurlik: Van watter see is hier ter sprake?

– Duidelik nie die Rooi See nie – dit lê glad nie op hulle roete nie.

– Vandag eintlik onmoontlik om te sê. Lyk asof selfs die skrywer nie regtig geweet het nie!

– Hebreeuse naam yam-suph beteken “See van die Riete”.

 

Volgende week kyk ons na die tweede boek in hierdie bundel: die boek Numeri.