4 Junie 2020

  1. Die Boeke Levitikus en Numeri:

 

  1. Opset: Levitikus en Numeri vorm so ‘n eenheid in die Pentateug dat ons hulle saam gaan neem, al ken ons hulle vandag in ons Bybels as twee aparte boeke. “Levitikus” se naam is herlei van die klomp reëls vir die priesters (die “priesterkodeks”) wat dit bevat, en Numeri (letterlik “Getalle”) kry sy naam weer van die volkstelling waarvan dit ons vertel. Hierdie twee-boeke-in-een strek van Eksodus 12:37 tot by Numeri 36, en vertel vir ons die verhaal van die volk se pad deur die woestyn.

 

Dis nogal nie ‘n baie maklike verhaal om te lees nie, want dit voel dikwels vir ons ietwat onsamehangend. Daarby bestaan dit uit ‘n wye verskeidenheid van genres wat saamgevoeg is. Jy kan reisverhale daarin aantref, asook  vertellende gedeeltes (stories), wette en dan ook dele oor admistratiewe reëlings (soos i.v.m. die sensus).Daarby bestaan dit ook heel tyd uit kort episodes wat dikwels half los van mekaar staan. As jy dit met die boek Eksodus vergelyk, lyk dit regtig asof die verhaal van die woestyntog nie vir die Jode naastenby so belangrik was soos dié van die Uit- of Intog nie!

 

  1. Inhoud van die verhaal:

Een rede hoekom die verhaal nie lekker lees nie, is omdat dit die hele tyd vertel van die volk se opstand en ontevredenheid. Dis alles verhale van hoe God en volk mekaar “toets”: die ontevredenheid, opstand en ongeloof skep ‘n baie gespanne verhouding tussen God en sy volk. Veral is dit God wie se genade en liefde die hele tyd getoets word, totdat sy geduld opraak en die volk op die ou end die straf kry wat hulle verdien.

 

Moses is steeds die hoofkarakter. Hy tree die hele tyd as Middelganger tussen God en die volk op, en soms laat God    Hom deur Moses oortuig, en versag Hy sy oordeel oor die volk. Dis egter nie vir Moses maklik nie; hy kry dikwels swaar en wens selfs om te sterf (Num.11). Eindelik oortree hy self ook deur sy humeur te verloor.

 

Die boeke teken nie vir ons ‘n mooi prentjie van die volk nie. Die verwondering wat hulle by Sinaï beetgepak het, maak gou plek vir opstand, en eindelik sterf ‘n hele geslag van hulle in die onherbergsame woestyn.

 

  1. Wat leer ons uit Numeri?

– Die sleutelgedeelte is Num. 13-14: die verhaal van die verkenners. Dit vertel die dubbele verhaal van weerstand en ongeloof aan die volk se kant, maar aan die ander kant ook van intrede en genade, en geloof en vertroue van Josua en Kaleb se kant. Die Lesse in die twee boeke is:

3.1. God hou sy verbond in stand: God voorsien leiers om sy mense te lei.

3.2. God herbevestig sy verbond aan die einde van die werk, en stel vir Josua aan.

3.3. Dis ‘n ware verhaal: Daarom so baie klem op spesifieke plekname, wat vandag  nog bekend is.