12 Junie 2020
- Die Boek Deuteronomium:
- Opset: Deuteronomium is die laaste boek van die Pentateug. Sy naam kom van die Grieks wat beteken “Die Wet vir die Tweede Keer” – dit is omdat ons die Tien Gebooie (Eksodus 20) amper woordeliks in Deuteronomium 5 herhaal kry. Net soos in die voorafgaande boeke is Moses steeds die hoofkarakter (ons lees wel van sy dood in die laaste hoofstuk van die boek). Die boek Deuteronomium was vir die Jode baie belangrik – dit is na alles waarskynlikheid “die wetboek” wat Josia eeue later in die tempel sou ontdek, wat tot die groot herlewing in daardie tyd sou lei.
- Datering: Die inhoud van die boek Deuteronomium is waarskynlik oor ‘n baie lang mondelings oorgelewer, en toe daarna waarskynlik ook oor ‘n baie lang periode neergeskryf – waarskynlik deur meer as een skrywer. Die boek vertoon ‘n baie interessante struktuur. Dis saamgestel baie soos ‘n internasionale verdrag / verbond tussen twee nasies. As jy Deuteronomium deurlees val die volgende dinge jou op:
– Die sterk kultiese agtergrond (die tema van die tempel is baie belangrik, wat ons ook laat dink dat dit waarskynlik te boek gestel is toe die tempeldiens sterk gevestig was)
– Die sterk profetiese trekke: Die doel van die boek is om die wil van God in ‘n baie spesifieke situasie te verkondig.
– Die sterk wysheidsinslag: Dit wil mense leer hoe om te leef.
- Die Teologie van die Boek Deuteronomium:
3.1. Oor God: Waarskynlik omdat Deuteronomium soveel later te boek gestel is, bied dit vir ons ‘n verstommend meer “moderne” siening van God: Dit lê telkens geweldig baie klem op die eenheid en uniekheid van God as Persoon. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is die bekende woorde: “Luister, Israel. Ons Here is één…”
3.2. Verder is Deuteronomium baie streng. Dit maak baie duidelik ons dat God nie afval en opstand verdra nie. Daarvan spreek Deut. 6:5 duidelik. Dis op die ou end eintlik die tema van die hele boek: Jy moet die Here met volle oorgawe dien… Daarom is die boek ook baie negatief teenoor die Kananiete en hulle afgode.
3.3. God is betrokke by sy mense: Hy woon tussen hulle – ‘n besondere voorreg!
3.4. Sleutelwoorde in Deuteronomium:
– Liefde: God het ons lief uit genade, en eis wederliefde.
– Keuse: God kies sy volk en roep hulle op tot ‘n keuse om Hom te dien.
– Vandag: Kom omtrent 100x voor; dringendheid van oproep om te kies.
– Verbond: In ‘n nuwe konteks, herbevestig God sy ooreenkoms met sy mense.
- Godsdiens in Deuteronomium:
Die beeld wat Deuteronomium teken, is eintlik heel uniek in die OT: Die groot klem wat op Liefde en dankbaarheid gelê word, klink plek-plek byna Nuwe Testamenties. In die verhouding met God waarin ons nou lewe, vra Hy van ons reinheid en volkome toewyding. Deuteronomium lê ook sterk klem op elkeen se persoonlike geloof en ‘n lewe van vreugde en dankbaarheid. Aan die ander kant word die belangrikheid van gesamentlike aanbidding tog ook telkens onderstreep.
- Familie- en Gesinsverband: Meer as in amper enige ander boek in die OT, word die belang van die familie groep en gesin telkens onderstreep. Dis immers waar God se verbond voortgedra word, en dis daarom geweldig belangrik vir die Here.
- Reg en geregtigheid: Nog ‘n geweldig belangrike tema in Deuteronomium (vgl 16:20) – omdat die gelowiges (volk) almal broers is, is almal gelyk voor God. Daar moet reg opgetree word teenoor almal – ook moet minder bevoorregtes (weduwees en wese) beskerm word. God herinner Israel telkens hoe dit vir hulle was toe hulle self magteloos en vreemd was.
7. Priesterdom: Kry nou ‘n ander rol, wyer as net in Eksodus-Numeri: kan selfs die doodstraf oplê!