19 Junie 2020

  1. Die Wetboek:

 

Hierdie is natuurlik nie ‘n aparte boek nie. Jy kry die wette sommer so verweef tussen die res van die verhaal in die Pentateug deur. Aan die ander kant is die wette so ‘n belangrike deel van die Ou Testament dat dit ons kan loon om dit net bietjie van naderby te bekyk:

 

  1. Waarskynlik ‘n latere toevoeging:

Dit lyk vir geleerdes asof die verhalende deel van die boek (die storie) eerste ontstaan het, en die wette na alle waarskynlik later ingevoeg is. Natuurlik is daar baie wette-kodekse in daardie wêreld, maar die OT s’n is tog opvallend anders: Om mee te begin, is hierdie nie wette wat deur die koning neergelê is en afgedwing word nie. Om die waarheid te sê, die koning is self ook daaraan onderworpe! Daarby vorm die wette ten nouste deel van God se mense se godsdiens: hulle gehoorsaamheid daaraan is die teken van hulle dankbaarheid dat Hy hulle verlos het uit Egipte. Maar al is God self wetgewer, stel Hy tog mense aan om dit as administrateurs en regters toe te pas en seker te maak dit word uitgevoer.

 

  1. Die Twee soorte wette: Hierdie voel dalk vir jou na ‘n baie tegniese ondersheid, maar laat ons net sê: ‘n mens kry twee soorte wette in die Pentateug:

2.1. Kasuïstiese wette: Dis die soort wette wat voorskrywe wat in ‘n sekere situasie moet gebeur. Dit begin gewoonlik só: “As jy so maak, dan sal…” Die wet begin deur ‘n hipotetiese (maar heel realistiese) scenario te teken en skryf dan voor hoe daarbinne gehandel moet word (bv Eks 21:26). Soms spel dit ook verswarende of versagtende omstandighede uit.

2.2. Apodiktiese wette: Hierdie soort wet is ‘n direkte verbod. Dit klink gewoonlik só: “Jy mag nie…” (die tien gebooie is hiervan ‘n goeie voorbeeld). Dikwels kom daar ook nog ‘n vervloeking by, as waarskuwing van wat met jou sal gebeur as jy dit oortree. Hierdie wette het dikwels ‘n meer godsdienstige agtergrond.

 

  1. ‘n Interessante stukkie trivia: Van al die wette van die Ou Testament is dit net dié in Esegiël 40-48) wat nie direk herlei word tot Moses en die gebeure by Sinaï nie.

 

  1. Verskillende groepe wette in die Pentateug:

Daar kom altesaam vier groepe wette in die Pentateug voor: .

 

4.1. Die Dekaloog (“Tien Gebooie”): Ons lees dit twee keer, eers in Eksodus 20 dan weer in Deuteronomium. 5, met minimale verskille (eintlik net met die 4de gebod – wat in Eksodus herlei word na die 7de skeppingsdag, en in Deuteronomium tot die verlossing uit Egipte.) Baie geleerdes dink die tien gebooie was aanvanklik nog baie meer kripties, en het net die 10 reëls uitgespel (Dit staan dan ook onder die Jode as “Die Tien Woorde” bekend). Dit spel vir ons uit hoe die lewe binne die verbond, ‘n lewe van gehoorsaamheid, moet lyk!

 

4.2. “Die Boek van die Verbond” (Eksodus 20:22-23:33). Hierdie groep wette is ingevoeg in die verloop van die verhaal. Wat hier interessant is, is dat:

  1. Dit praat met boerderygemeenskappe eerder as rondtrekkende nomade (daarom praat dit van grond, diere, oeste, huisbraak, ens.). Dit beteken dat dit dus heel waarskynlik uit ‘n bietjie later tyd kom, die volk reeds gevestig was.
  2. Die Naam van Jaweh so min daarin voorkom. Dis nie so sterk teologies gegrond soos sommige van die ander wetboeke nie.
  3. Daar geen verwysing na enige koning in voorkom nie.

 

4.3. Wette van Deuteronomium: Hierdie stel wette is baie meer uitgebreid as bv. die Boek van die Verbond, waarna ons hierbo verwys het, en dit lê baie meer klem op administrasie en regspraak – duidelik bedoel vir ‘n later fase in die volk se geskiedenis.  Daarby is dit ook baie meer onsamehangend: dit vorm eintlik geen geheel nie. Die wette wat dit oor die aanbidding van die Here gee, is heel uniek in daardie wêreld en tyd (bv Deut. 12), en daarby is dit in ‘n baie sterk “preekstyl” geskryf:  dit wil hoorders motiveer om die Here te gehoorsaam en dien.

 

4.4. Priesterwette: Die laaste groep, die sg. “Priesterkode” vorm die grootste deel van die wette in die Pentateug. Dit kom verspreid deur Eksodus, Levitikus (omtrent hele boek) en Numeri voor. Volgens die Bybel is dit deur Moses vir die volk gegee by Sinaï, maar dis eintlik baie meer op die priesters gerig, bv. die offerwette.

– Belangrik: vir ons voel die wette dalk baie verouderd, maar is dit tog opvallend dat dit nêrens voorgee dat offers ‘n mens net meganies verlossing sal bring nie.  Sonder geloof en ware sondebelydenis is daar geen verlossing nie!

– Die “heiligheidskode” (Levitikus 17-26): vorm ‘n belangrike deel van die priesterwette Dit word so genoem oor die frase wat herhalend byna soos ‘n refrein hierin voorkom: “Wees heilig want Ek is heilig”. Dit bevat ‘n wye verskeidenheid wette oor die alledaagse lewe, en word afgesluit met ‘n belofte van seën vir die wat dit gehoorsaam, en vloek vir die                                   ongehoorsames.