26 Junie 2020

  1. Hoe lees ek die Pentateug?

 Voordat ons nou afstap van die Pentateug en aangaan met die res van die Bybelboeke, is dit dalk belangrik dat ons vir onsself hierdie vraag vra. Daar is na alles verskillende maniere waarop jy die Pentateug kan lees: Jy kan dit

 

  1. lees as ‘n Verhaal: Dan kan jy doodeenvoudig net die storie wat dit vertel, geniet: die epiese verhaal van die ontstaan van ‘n volk geniet, wat ons vat van die meer algemene van die skeppingsverhaal tot by die unieke ontstaangeskiedenis van God se mense. Om jou daardeur te laat meesleur, is sekerlik ‘n baie legitieme manier waarop ‘n mens dit gerus kan lees!
  2. lees as ‘n Literêre werk: ‘n Tweede manier is om dit as ‘n literêre skepping onder die vergrootglas te plaas, en van naderby te bekyk. Hierin vind ons ‘n baie interessante versameling kortverhale en Novelles (soos bv die Josefverhaal, wat vandag baie hoog aangeskryf word, as ‘n meesterstuk van sy tyd). As jy dit so benader, kan jy let op die baie interessante samestelling, bv. hoe verskillende genres saamgevoeg is tot ‘n eenheid. Byvoorbeeld, hoe die wettekodekse deel van die verhaal gemaak is. Die Pentateug is inderdaad ‘n werk van hoogstaande literêre waarde!
  3. lees as ‘n vergelykende studie van godsdienste: ‘n fassiNerénde studie is om die Pentateug te vergelyk met ander nie-Bybelse verhale en kodekse, bv om die wette daarvan te vergelyk met dié van Hammoerabi, of die sonvloed-verhaal met dié van Gilgamesj.  Jy kan ook daaruit ‘n studie maak van die ontwikkeling van die Joodse  godsdiens.

4. Ander moontlikhede:

4.1. Lees dit as geografiese studie: om die uittog te “plot” byvoorbeeld.

4.2. Lees dit as sosiologiese studie: hoe die mens in verbande ontwikkel het.

4.3. Lees dit as Antropologiese studie: Hoe sosiale kulture ontwikkel het.

  1. Teologies-wetenskaplike benaderings: Maar dan kan jy dit natuurlik ook as deel van die Bybel lees. As ons dit so teologies benader, vind ons dat dit in die verlede veral op een van twee maniere gedoen is. Ek noem dit net volledigheidshalwe:

5.1. Diakroniese benadering: Ingestel op die ontstaansgeskiedenis van die boek.

5.2. Sinkroniese benadering: Ingestel op die oorspronklike bedoeling van die skrywer / samevoeger van die boek.

 

Wat is in ‘n neutedop die boodskap van die Pentateug?

  1. Belofte en vervulling: God doen wat Hy belowe het. Hy het aan die begin vir die aartsvaders ‘n land belowe; teen die einde van die boek vind ons die volk gereed om dit te betree.
  2. Moses: ‘n FassiNerénde karakter. Hy is ‘n voorbeeld van ‘n ideale leier in geloof, getrouheid en gehoorsaamheid, en tog is hy nie regtig die hoofkarakter van die Pentateug nie – God is!
  3. Die volk Israel: word bra negatief geteken as waarskuwing vir toekomstige lesers.
  4. Patriarge: Godsdienstige rolmodelle en geestelike voorvaders – maar tog ook gewone, feilbare, gelowige mense!
  5. God: Geteken met twee kante: genadig, maar tog ook streng. Dis meeste van die tyd nog ‘n baie primitiewe godsbeeld, m.a.w. ons leer God later in die Bybel op ‘n heel ander manier ken! Aan die ander kant teken die Pentateug egter tog ook vir ons ‘n prentjie van God wat getrou is en sorg. Dis ‘n troosboek vol belofte, wat saam met die ernstige waarskuwing om die Here met oorgawe te dien, gaan!