30 April 2020

  1. Inleiding.

Daar is ‘n vak in die teologie wat hulle noem “Bibliologie”. Anders as ander vakke in die teologie, soos Dogmatiek, wat fokus op die inhoud van die Bybel, bestudeer Bibliologie die Bybel as boek, soos jy hom in jou hand vashou. Dit vra vrae soos: waar kom elke boek vandaan, en wat maak dit anders as ander boeke? Wie het dit geskrywe, en onder watter omstandighede (en hoe help dit ons verstaan wat die boek wil sê)? Wat is die een ding wat die skrywer ons graag wil leer, wat sy boek anders maak as ander Bybelboeke?

Want een ding moet jy baie mooi van die Bybel verstaan: Soos hy daar op jou bedkassie lê, lyk hy dalk vir jou na een baie netjiese boek, maar die Bybel is nie regtig ‘n boek nie – dis ‘n biblioteek! En nou weet jy mos hoe werk biblioteke. Dit bestaan uit verskillende rakke waarop soortgelyke boeke (ons noem dit “genres”) saam gegroepeer en uitgepak is. Jy kan nie die digbundels tussen die geskiedenisboeke gaan soek, of die fiksie tussen die outobiografieë nie.

Net so bestaan die Bybel ook uit verskillende genres, wat jy elkeen op sy eie unieke manier moet lees, as jy hulle tot hulle reg wil laat kom. Daar is geskiedenisboeke (Rigters en Konings bv.), en poësie (Psalms en Hooglied), wetkodekse (Levitikus), profetiese boeke (Jesaja en Jeremia) en dan is daar natuurlik iets unieks aan die Bybel, nl. Evangelies (Matteus – Johannes), asook heelwat briewe (Romeine en Korintiërs bv.) en wat ons noem Apokaliptiese boeke (Openbaring en die tweede deel van Daniël). Natuurlik oorvleuel genres soms in dieselfde boek (dink aan die gedigte in Deuteronomium), en is daar allerhande klein interessante gedeeltes, soos die fabel wat ons in Rigters 9 aantref.

Wat ons nou oor die volgende klompie weke gaan doen, is om elkeen van die boeke in hierdie biblioteek ‘n slag van die rak af te haal en van naderby te bekyk. Ons gaan onsself afvra wat uniek aan elkeen is, en wat dit vir ons wil sê. Wat maak Jesaja anders as Miga, byvoorbeeld? Jy kan selfs hierdie stukkies uitdruk en in ‘n leêr bewaar, vir wanneer jy Bybelstudie doen oor een van die boeke.

Dis natuurlik nie asof ons dink dat die agtergrond van ‘n Bybelboek alles bepaal wat dit vir ons kan sê nie – dis mos nie ‘n gewone boek nie! Dis deur die Gees geïnspireer en Lewende Woord van God –  deur sy Gees praat Hy met jou, elke keer as jy dit oopblaai. Maar as jy die agtergrond ken, en weet wat dit vir die oorspronklike lesers in hulle omstandighede gesê het, gaan jy makliker die boodskap daarvan vir vandag se lesers verstaan. So, welkom by hierdie reis deur die Bybel. Mag dit jou help om net nog beter te verstaan wat die Here vir jou wil sê!

Net terloops: Hierdie “kursus” is in 2008 vir die Delwer-groep aangebied. Vir julle gaan dit dus hersiening wees!