4 Junie 2020

Ons kerkgebou se deure bly voorlopig steeds gesluit, maar God se deur staan nog altyd wawyd oop.  In Jes. 59:1 staan daar: “Die arm van die Here is nie te kort om te help nie en Sy oor is nie te doof om te hoor nie.”

 

Ons God is groter as ons omstandighede en Sy wese kan nie ingeperk word nie.  Net so is ons gemeente-wees nie beperk tot ‘n gebou nie en ons Christenskap nie ingeperk agter grendels nie.  De Eike se aktiwiteite is nie gestaak toe die eredienste in ons kerkgebou gestaak is nie.  Ons moes dalk aanpassings maak aan die manier waarop ons dinge doen, maar ons het nie opgehou om dit te doen nie.

 

Ons leraars het nie opgehou om te preek nie en hulle het ook nie skielik opgehou om dominees te wees nie.  Agter die skerms gaan die administratiewe aktiwiteite voort en ons gemeentebestuur het nie hulle taak versuim nie.  De Eike se lidmate het nie oornag ons harte toegesluit nie.  As gemeentelede het ons nie opgehou om ons liefde uit te leef nie.  Ons kook steeds sop vir die sopkombuis en ons deel steeds kospakkies uit waar daar ‘n behoefte is.  Ons betaal steeds die volle GBO-bydraes oor aan die organisasies wat ons hierdeur ondersteun, en ja, ons betaal steeds ons personeel se salarisse ten volle en sal voortgaan om dit te doen.

 

Dit alles word moontlik gemaak deur elkeen se bydrae – nie net finansiële bydraes nie.  Terloops: die reaksie op die ingebruikneming van Snapscan was oorweldigend positief.  Verder het ons hierdie jaar meer Pinksterbydraes as verlede jaar ontvang.  Alle Pinksterbydraes word geskenk vir bybelverspreiding en sodoende help ons om bybels in dankbare hande te plaas.  Ons hou dus ook nie op om ons Kerk se missionale roeping uit te leef nie.

 

Terwyl die fondse wel noodsaaklik is, is geen ander bydrae minder nodig of minder belangrik nie.  Baie dankie vir elke bydrae.

 

Ek sê ‘n spesiale dankie vir elke helpende hand.  Elke paar hande wat ‘n warm pot sop kook of ‘n maaltyd voorberei, elke paar hande wat steeds met hulle normale dagtake besig is, elke paar hande wat uitgestrek en oopgemaak word om ander te help en veral elke paar hande wat toegevou word in gebed, maak ‘n verskil in iemand se lewe.

 

Ek het hierdie week die voorreg gehad om self ‘n genade-kospakkie (moontlik gemaak deur die Drop & Go- bydraes) te gaan aflewer by ‘n gesin wat dit nodig het.  Ek is bedank met ‘n “Jy sal geseën word.”  Néé, ek is alrééds geseën!

 

Mag ons as ‘n gemeente aanhou om vir ander tot seën te wees, omdat ons alreeds soveel seëninge ontvang het.

 

Elmari Schwenke

Voorsitter Finanskommissie