18 Januarie 2019

1.  Bekendstelling – 17 Januarie

In 2018 was Alpha vir die eerste keer by De Eike aangebied. Aan die begin was ons bloot ‘n klomp vreemdelinge met vrae oor ons geloof en die lewe, maar aan die einde was ons ‘n groot groep vriende, ‘n familie wat mekaar bemoedig en ondersteun.

Hierdie jaar bied ons weer Alpha aan en wil elkeen aanmoedig om dit by te woon. Kom kyk na praktiese en interessante aanbiedings waar vrae waarmee elkeen van ons een of ander tyd worstel bespreek word. Vrae soos: Kan ek die Bybel glo? Wie is Jesus regtig? Waarom laat God dit toe? Waar was Hy? Gee Hy regtig om? Kan mense gesond raak as daar vir hulle gebid word? Wie is die Heilige Gees? Praat God nog met mense?

Kom ontdek saam met ons die antwoorde op die vrae en nog vele meer Donderdagaande vanaf 19:00 tot 21:00 vanaf 7 Februarie tot 2 Mei 2019 wanneer ons gesellig om ‘n paar tafels kuier met iets te ete en te drink.

Registreer asb. by Mariana of Cathy by die kerkkantoor (021 903 3818) teen 4 Februarie om jou plek te verseker. ‘n Registrasiefooi van R60 kan by die kerkkantoor of elektronies inbetaal word (ABSA Bank; Tjekrekning: 3010590069; Verwysing: Alpha_jou van). Bevestig asb. alle elektroniese betalings met Mariana of Cathy.  Vrae kan gerig word aan Ds. Chris (021 982 7076) of Franci Gresse (082 891 2384).

Kyk bietjie wat het De Eike se 2018 Alpha-groep te sê gehad oor hoe hulle die reeks ervaar het:

~ Ek het baie geleer, baie van ander mense geleer en nuwe, wonderlike mense leer ken. Ek is baie lief vir hulle almal.
~ Dit was heerlik. Ek het geleer om die Here te hoor.
~ Die kursus is baie goed uiteengesit en vreeslik lekker om na te luister en te verstaan. Ek het baie geleer deur dit.