3 Augustus 2018

Ek was gevra om ‘n leier by die Alpha-kursus te wees. Met geen ondervinding het ek ingestem. Daar was ‘n leierskursus maar nogtans was ek maar op my senuwees. Boonop was tafel nommer een aan my toegewys en toe ek die lys van name sien wat by my tafel gaan sit was die knie maar seer gestamp. Ek het net een persoon, behalwe my vrou,  aan my tafel geken.

Die eerste Woensdag toe ek my tafelgenote sien het ek amper omgedraai en laat waai  aangesien ons, behalwe een, almal in ons middag koffietyd is. Die mense is mos slimmer as ek en hulle ken hul Bybel beter as ek. Maar soos tyd verloop het, het ons mekaar ‘n bietjie beter leer ken en nadat ons ons maaltyd geniet het, het die kursus begin. Watter heerlike leersame tyd. Onbekendes het hul menings en opinies gelug en openhartig saam gesels.

By die tweede Woensdag was daar geen ongemaklike stilte nie . Allerhande dinge was oor gepraat tot “two of four ply“ wol. Plus natuurlik die video kyk en luister en die vrae wat gevra was,  op ons gewone mense se manier probeer beantwoord.

En nou kom ons by die derde Woensdag. Terwyl almal wag vir die verrigtinge om te begin klink die saal soos ‘n byenes. Jy kan jouself skaars hoor dink. Na ete en twee liedere gesing was daar net een vraag. Hoekom moes JESUS sterf? Na die tafelbespreking het ons die video gekyk, afgesluit met gebed en huiswaarts gekeer.

Julle sal oplet dat daar NIE Bybel gelees of Bybelstudie gedoen word nie. Maar ons as mens moet dink aan die antwoord op die vrae wat gevra word. En die antwoorde is verskillend van mens tot mens en tafel tot tafel.

Vreeslik leersaam, nuwe vriende ontdek, heerlik gesels en hoogs aanbeveel.

Daar gaan volgende jaar weer ‘n kursus aangebied word en my aanbeveling is: Kom!

Charles Wolfaardt