28 Februarie 2020

Lydenstyd (Engels: Lent) is een van die heel wonderlikste seisoene op ons kerklike kalender. In hierdie 46 dae word ons daaraan herinner dat God ons nood raakgesien het, en in sy Seun in ons wêreld ingekom het om herstel te kom bring.

Geskiedenis van Lydenstyd:

Lydenstyd word sedert die vierde eeu n.C. in die kerk gevier. Dit was ‘n tyd van stilword, en gelowiges is opgeroep om daardie 40 dae te vas. Gewoonlik is net een maaltyd per dag (sonder enige vleis) geëet. Omdat Christene nie op ‘n Sondag (die feesdag van die Opstanding) gevas het nie, het die tydperk op die Woensdag begin. Vandag nog word die 40 dae + 6 Sondae as Lydenstyd herdenk.

Aswoensdag:

Die Woensdag wat Lydenstyd inlei, het die gelowiges by die kerk byeengekom. Daar het hulle die as van die palmtakke wat oorgebly het van die vorige jaar se Palmsondag, en intussen verbrand is,  geneem en ‘n kruis op hulle voorkoppe geteken. So het hulle die ou Jode se rougebruik oorgeneem, om te wys dat ons ons verootmoedig en rou oor ons sonde, wat Jesus se lyding veroorsaak het. Interessant genoeg, gaan daar vandag al meer stemme op wat vra vir so ‘n tipe seremonie in De Eike.

Simbole:

Die groot simbool van die Lydenstyd is natuurlik die kruis. Die kry in die erediens ‘n prominente plek, maar lidmate word ook opgeroep in iewers in hulle huis as deel van hulle getuienis ‘n kruis duidelik te vertoon. Die kruis herinner ons die hele tyd aan Jesus se lyding vir ons. Simbole wat hiermee saamgaan, is spykers en die doringkroon. Die Christuskers in die erediens word met doringdraad omhul om die seer van hierdie tyd te verbeeld. Op Aswoensdag is die kleur grys, en daarna warm, aardse kleure, veral ook pers.

Lydenstyd is ten diepste ‘n tyd van hertoewyding – vandaar die gebruik om te vas. Ons kan in ons gesinne dit kreatief aanwend deur nie noodwendig van kos te vas nie, maar tog iets vir hierdie 46 dae op te gee as deel van ons hertoewyding aan die Here. Ek weet van lidmate wat sjokolade opgeoffer het, of gaskoeldrank, of ‘n gunsteling TV-program (kyk iemand nog 7de Laan?) of ‘n aktiwiteit wat vir ons lekker is. So kan ons ons kinders mee neem om die Lydenstyd vir hulle ook nuwe betekenis te gee.

Lydenstyd is dan ook by uitstek ‘n tyd van stilte. Ons moet stilword voor die Here, om ons opnuut aan Hom te wy. Daarby is daar natuurlik wonderlike Lydenstydmusiek, wat in elkeen se smaak kan val – van Bach se groot passies tot die Houtkruis. Vir my is die kerk se heel mooiste musiek juis sy lydensgesange. Sing dit, as jy ‘n kans kry, op pad werk toe, onder die stort, of saam met jou gesin!

Die Groot Lydensweek:

Die laaste week voor Paasnaweek staan bekend as die Groot Lydensweek. In ons gemeente kom ons elke aand vir ‘n halfuur by die kerk saam, en begin fokus op die dramatiese gebeure wat op die Paasnaweek voorlê. As jy dit nog nooit meegemaak het nie, is dit vanjaar hoog tyd. Dit help ‘n mens instem op die wonder van die Pase.

Die Paasnaweek:

Op Paasnaweek vind daar drie byeenkomste plaas. Vrydagoggend is die donker, somber Goeie Vrydagdiens. Anders as ander dienste, is daar die minimum musiek, die ligte is alles af en alle versierings word gebêre. Gewoonlik word die Nagmaal bedien. Aan die einde van die diens word die Christuskers gedoof en almal gaan stil uit die kerk, sonder dat die seën uitgespreek word. Sondagoggend kom ons iewers in die natuur bymekaar om die sonopkoms in te wag. Die deurbreek van die lig is ‘n aangrypende simbool van nuwe lewe, wat nie anders kan as om jou aan te gryp nie. In die verlede was dit by Van Wykstraat op die rivieroerwer, maar ons sal jou deur die afkondiginge in die prentjie hou. En daarna volg die feesdiens in die kerk. Nou is alles uitbundig en lig, en oral is blomme, want ons Here het opgestaan! En daarmee is Lydenstyd dan ook verby…

Mag die Here vir jou en jou gesin in 2020 ‘n besonder ryk en geseënde Lydenstyd gee!