26 Januarie 2024

Ek loop al maande rond met ‘n dankie binne my wat net nie in woorde op papier verander kan word nie. Ek moet dankie sê. Ek weet net nie hoe ‘n mens so hoeveelheid dankbaarheid in woorde kan verander nie. Die dankbaarheid is meer as wat swart strepies op ‘n wit papier kan maak.

Daar is baie vir wie ek wil dankie sê. Die wat sonder ophou bly bid het. Nie net vir die wat minder as ons het nie, maar baie keer NIKS het nie, aanhou raaksien het. Vir hul aanhou opdra het aan die enigste ware voorsiener in ons gebroke wêreld. Nie almal kan die omstandighede van Greenpark hanteer nie en ek weet baie mense sal nie die werklikheid van die hartseer kan verwerk nie en dat hul BESTE bydrae en talent gebed is. DAARVOOR sal ek hul en God altyd bedank.

 

Die wie hul tiendes en twintigstes en dertigstes aanhou toevertrou het aan NG Kerk De Eike, wat Greenpark so baie maande heeltemal onderhou het. Ons almal se talente is nie dieselfde nie maar die van julle wat goed is om oordeelkundig finansies kan genereer, DANKIE. Dankie dat jul soms jul eie finansiele behoeftes en begeertes eenkant toe geskuif het om die wat dit so nodig het by te staan.

 

Dan die omgee harte van De Eike. Die wat elke keer vir my voorgekeer en gevra het hoe dit gaan. Die wat stories, mense, en name onthou het. Die wat saam met my hartseer was. Wat my laat huil en dan getroos het. Die wat getrou ons bewegings gevolg het. Wat aan Greenpark gedink het tydens die jaarlikse uitgooi. Wat kos aangedra het. Die wat my arms omhoog gehou het wanneer die oorlog lank geraak het.

 

Ek moet dankie sê vir die wat hul tyd en vaardighede gedeel het. Almal wat saam met my die grondpad aangedurf het, die moed gehad het om by ‘n palkkerskamp in te ry. Wat spykers ingekap het, pale ingeslaan het, met kinders gespeel het, funksies gehou het (veral die kersseisoen gevul met koekies, lekkers en geskenke), en saam ‘n bitter koppie koffie met oorgawe geniet het uit iets wat eens op ‘n tyd ‘n beker was. Dankie vir die klerebank wat hul hulpbronne so moeiteloos laat gaan het. Wat gegee het sonder om terug te verwag.

 

Dan vir die getuienis aksie en al die individu wat oor die jare daarop gedien het. Ek weet nie een van julle wil spesifiek uitgesonder word nie want jul liefde gee jul sonder enige behoefte aan erkenning weg. Dankie vir jul kundigheid, omgee, gebed, toewyding, geloof, vertroue en net die bystand van jare wat soos ‘n leeftyd voel. Jul elkeen sal verewig by my bybly en ek sal jul onthou met ‘n dankbare hart.

 

Die grootste dank is aan God. God wat my nog altyd en vir altyd sal onderhou en aan my voorsien. Ek is dankbaar dat Hy my die geleentheid gegee het om ‘n verskil te maak. Om ander mense se lewens beter te maak. Om ‘n behoefte te hê om ander te WIL help, en dat ek so ‘n bydrae kan maak tot God se koninkryk. Ek is dankbaar dat hy my versorg. Dat Hy my so lief het dat Hy my so bederf. Dat Hy my sien as nie net waardig nie, maar as wonderbaarlik. En dat ek weet…Hy voel niks minder vir enige van Greenpark se mense nie. Al lyk dit nie so nie, versorg Hy hul met soveel liefde en ek is ewig dankbaar dat Hy my kon gebruik om sy versorging daar te kon deel op ‘n tasbare