14 November 2019
Vir baie jare al bel ek gedurende Oktober vir Hester Carstens om haar te herinner aan die Kerstoneel wat sy elke jaar voor ons Kersuitvoering in De Eike se voorportaal vir ons maak. Gewoonlik raap en skraap sy items bymekaar om so min moontlik uitgawes te hê, maar vanjaar het sy gevra dat ons asseblief die kersfigure nuut maak. Sy was die dryfveer agter die hele projek en so het ds Hannes se figuursaag ‘n hele paar ure
gewerk en Christa de Kock (voorheen Kunsjuffrou by Mikro) wat nou op Onrus woon, het ‘n hele Saterdag daaraan geverf. Hester en haar man (hy ondersteun haar in álles) het die figure heen en weer vervoer en nog was dit die einde nie, want toe sit Johan Norman vir ons voetstukke aan sodat die figure kan regop staan. Hy het selfs ook verder gegaan en ‘n pragtige, stewige kas gebou om die figure in te bêre sodat dit nie beskadig nie.
Vir al hierdie insette sê ons opreg dankie. Dit het my laat dink aan ‘n paar sterre wat stilletjies skitter wanneer dit die regte tyd is. Ek hoop almal sal vanjaar ons Kerstoneel opnuut geniet!
René Ferreira
Orrelis