19 Maart 2021
Ons sou so graag vanjaar weer ‘n lekker tradisionele basaar wou hou met al die ou gunstelinge en lekker dinge. COVID-19 hou ons egter nog steeds in sy greep en tye is onseker.
Daar is in die lig van dié onsekerheid dus besluit om vanjaar weer, soos verlede jaar, ‘n ROADHOUSE BASAAR te reël.
Vir die wat nie weet hoe dit werk nie, dit werk so:
- lidmate plaas hul bestelling en betaal voor die tyd
- produkte word voorberei
- die oggend van die basaar kom jy kerk toe, parkeer en wag in jou motor terwyl jou bestelling deur die “kelner” bymekaar gemaak word en dit word by jou motor vir jou afgelaai
- jy geniet jou heerlike items by die huis
‘n volledige skrywe en bestelvorms sal eersdaags versprei word in die blokke. Dit sal ook by die kerkkantoor en op die webwerf beskikbaar wees.
Ons span konvenors werk elke jaar baie hard om ‘n sukses van die basaar te maak, ongeag die formaat. Hulle kan dit egter nie alleen doen nie en ons het hulp van ons lidmate nodig om hul hande ligter te maak.
Pannekoek: Johanette Louw en Louisa Blomerus soek hulp met bak en rol van die pannekoeke.
Boereworsrolle: na baie jare het Frank en Hetta die tuig neergelê – ons is dus op soek na iemand wat die leiding daar kan neem.
Boepensbroodjies: Ronel Williams is dringend op soek na manne en vroue wat kan help jaffels maak. Eie gasbottel/plaat en jaffelpan is nodig. Die jaffels word die Vrydag voor die basaar hier by die kerk voorberei en verpak
Sy het ook hulp nodig met die gaarmaak van die maalvleis, 2 of 4kg per persoon. Die maalvleis word verskaf.
Poeding: Basaarpoeding bly mos maar ‘n groot gunsteling. Ons het dus baie poedings, warm en koud, nodig. Laat weet as jy bereid is om ‘n poeding of 2 te maak. Ons het ook helpers die dag van die basaar nodig met die skep van die poeding.
Soos met enige ander basaar is lidmate ook welkom om ‘n finansiële bydrae te maak en/of bestanddele te skenk. Die volgende bestanddele word benodig:
- koekmeel, bruismeel, suiker, bakpoeier, kaneel, asyn, kookolie, langlewe melk, vla, eiers, sout, mayonnaise, kondensmelk, botter (vir smeer), spray & cook, papierhanddoeke, bestanddele vir poedings, tamatiesous, mostertpoeier
Ons doen hiermee ‘n beroep op almal om saam te span om behulpsaam te wees in hierdie tyd wat ons mekaar so nodig het. Jou gemeente het jou nou nodig.
Bel die kerkkantoor as jy wil bydra tot die sukses van ons basaar op 29 Mei 2021.