15 Maart 2018

30 Desember 1941 – 22 Januarie 2018                    26 Julie 1941 – 19 November 2017

Beni en Bethli Scheidegger en hul twee seuns, Markus en Roman, het in 1972 van Switserland na Suid-Afrika geëmigreer.

As gevolg van haar kennis en belangstelling in tuinmaak en plante word sy gou ‘n goeie vriendin van almal in Stewartstraat. Sy was altyd gewillig om raad te gee. Haar tuin was ‘n lushof en sy het dikwels die eerste prys in die Tygerberg-tuinboukompetisies gewen.

Sy het vir jare lank op die bestuur van die Tygerberg-Tuinbouklub gedien en die bol- en struike-afdeling beoordeel. Sy het ook die klub “Groenhoekie” ondersteun waar lede plante kon gee wat weer vir fondse verkoop is. Sy was ‘n getroue Vrouebiduurganger en het altyd vir elkeen ‘n presentjie saamgebring na ‘n besoek aan Switserland.

Sy en Beni was vir jare verantwoordelik vir die plante by die kerkbasaar. Die pragtige plante in glase en bottels was ‘n bewys van haar talente.

Beni was ‘n bedrewe ambagsman wat in die slyp van alle draaibanktoerusting spesialiseer het.

Bethli was nog in die intensiewe eenheid van die Kuilsrivier Hospitaal toe Beni oorlede is. Daar is tydens ‘n gesamentlike diens op 7 Februarie van hulle afskeid geneem. Die baie mense wat teenwoordig was, is ‘n bewys van hoe geliefd hulle was.

Hulle plekkie is leeg en ons mis hulle.

Ena Knoetze