13 Maart 2020
KIRSTENBOSCH UITSTAPPIE
Dinsdag 10 Maart 2020
Soos wafferse toeriste klim 48 senior burgers uit ‘n luukse bus by Kirstenbosch. Met swaaiende kameras om die nek val almal bewapen met hul ID boekie in ‘n ry by die ingangshek in. Elkeen kon ‘n koers deur die verskillende afdelings van die tuin inslaan na waarheen hy/sy eerste wou gaan. Een en elk staar in verwondering na die grootsheid van die berge wat masjestueus bokant die tuine uitstyg. Of jy al voorheen by Kistenbosch was of nie, die pragtige biodiverse plantegroei, kleurvolle blomme of reusagtige bome verstom ‘n mens elke keer. Ons kon nie vir ‘n meer ideale dag gevra het nie, want dit was heerlik koel en windstil. Toe kom die groot opgwondendheid om te stap oor die groot “SLANG” vanwaar ‘n mens ‘n panoramiese uitsig oor feitlik alles kan geniet. Martie Swart het ‘n behoorlike piekniekmandjie saamgebring en het hulle heerlik gesmul aan gekookte eiers, varkworsies, toebroodjies en koffie. Met baie korter en stadiger treë het die span die terugtog aangepak na die Moyo restaurant vir middagete. Ons kon vooraf ‘n keuse tussen vis en skyfies, hamburgers en skyfies of botterbroodjies vanaf die spesiale pensionarisse spyskaart, wat terloops slegs op Dinsdae beskikbaar is, uitoefen. Die bekers yskoue water op die tafels was ‘n welkome lafenis nà die “long walk”. Daar is behoorlik weggelê aan die heerlike middagete en moeg, maar tevrede is almal terug op die bus en op pad huiswaarts. Dankie Ds Johan en die komitee: Dit was ‘n heerlike uitstappie.
Elise van Wyk