2 November 2017
Die afgelope week het ons die volgende e-pos ontvang van sinodale kant af:
“Die Moderatuur van die NG Kerk is deeglik bewus van talle vorme van nood in ons land. Ons is op die oomblik baie bekommerd oor die mate van geweld en misdaad en die impak van droogtes op lewe en die omgewing.
Die Goudland Sinode het inisiatief geneem om mense op te roep na ‘n landwye geleentheid vir verootmoediging en voorbidding op Woensdag 8 November. Ons ondersteun hierdie inisiatief heelhartig en doen ‘n beroep op al ons sinodes om gemeentes aan te moedig om op 8 November verootmoedigings- en voorbiddingsgeleenthede te reël en spesifiek te bid vir:
- die onaanvaarbaar hoë mate van geweldsmisdaad, waarvan plaasmoorde deel is.
- landbou-omstandighede en die impak van droogtes en klimaatsverandering op mense, diere en die omgewing.”
De Eike gaan ook met groot entoesiasme hieraan deelneem, omdat ons glo dat die oplossing van ons land se probleme nie in konfrontasie en die regte leiers (mense) lê nie, maar by die Here. Jy is baie welkom om op Woensdagaand om 19:00 by die kerk deel te hê aan hierdie dag van verootmoediging en voorbidding. Ons gaan luister na die Here, en onsself voor Hom verootmoedig (dit beteken belydenis van ons sonde en nuwe toewyding aan ons Here en Koning). Jandré het reeds ingestem om die musiekbegeleiding te doen. Van jou vra ek baie mooi dat jy sommer nou al sal bid vir die geleentheid, dat die Gees ons daarvoor sal voorberei en dat God ons smekinge sal hoor – en dat jy dit vir niks op aarde sal misloop nie. Kom ons pak die “skilpadkerk” gelyk vol!