15 November 2024

Volwassenes

Blokraaisel – Volwassenes en hoërskoolleerders

Die verstekposisie is dat Bybelverwysings uit die 2020-vertaling kom. Waar dit nie die geval is nie, word spesifiek na die ander vertalings verwys (“(53)” en “(83)”).

Hoofletters moet verkieslik gebruik word en die spelling moet korrek wees. Leestekens (deeltekens, kappies, aksenttekens, ens) moet gebruik word, maar is opsioneel indien die betrokke letter deel uitmaak van twee verskillende woorde en die leesteken net in een van die twee woorde gebruik word.

Sonder ’n woordeboek en sonder algemene kennis sal jy moontlik soms jou moses teëkom.

AF:

  1. Die 2020-naam van die eiland waar Paulus deur ’n giftige slang gepik is.

[Hand 28:1-3 – MELITE – dit is (vandag) beter bekend as “Malta”]

  1. Die Markus-spelling van hierdie spesiale (kerk)skool naby Matanzima se eertydse hoofstad.

[Mark 7:34 – EFFATA – Woord deur Jesus gebruik toe Hy ’n “doofstomme” genees het. Dit beteken “gaan oop!” Hoofman Kaiser Matanzima was die leier van die eertydse tuisland Transkei met Umtata (Mthatha) as hoofstad. “Efata” is die naam van die bekende skool vir blindes en dowes wat op die buitewyke van Mthatha, naby die sendingstasie De Coligny, geleë is.]

  1. Sy was byna-byna die besembosprofeet se Nemesis maar, soos voorspel, het die honde, en nie sy nie, die laaste gelag. . .

[1 Kon 16 – 2 Kon 9ISEBEL – Die “besembosprofeet” was Elia (1 Kon 19). As iemand jou Nemesis is, is hy of sy jou aartsvyand en so iemand veroorsaak dikwels jou ondergang. Isebel het uiteindelik gesterf toe van die eunugs wat haar moes oppas, haar uit die venster van ’n hoë gebou uitgegooi het. In 1 Kon 21:23 is voorspel dat die honde Isebel sal verslind – dit het toe inderdaad net so gebeur.]

  1. Hy was ’n vroeë kerstenaar van ’n besoeker uit die Donker Kontinent (en, volgens die Grieke, was hy ’n perdeliefhebber?).

[Hand 8: 26-40FILIPPUS – Om iemand te “kersten” beteken om hom tot die Christendom te bekeer of die Evangelie na hom te bring. Filippus het sekere verse in Jesaja, wat na Jesus se lyding vooruitwys, uitgelê vir die hofdienaar van Ethiopië (dus uit “Donker” Afrika), in 2020 ’n eunug genoem. In Grieks hou “phil-/fil-” verband met “liefde” in woorde soos filantroop, filatelie, filosofie, bibliofiel (wat dui op iemand met ’n liefde vir onderskeidelik ander mense, seëls, wysheid of boeke). Philip of Filippus beteken “ ’n liefhebber van perde”).]

  1. Dis waar ’n toring omgeval het wat 18 mense gedood het (Lukas).

[Lukas 13:4SILOAM – Die naam is ook bekend omdat daar ’n bad (poel) was waar mense deur Jesus genees is (Joh 9)]

  1. Die toesighouer van die Babiloniese paleisamptenare het in die tyd van ballingskap dié naam aan Asarja gegee.

[Dan 1:6-7ABEDNEGO – Daniël en sy drie vriende is nuwe name gegee (niks nuuts onder die son nie?): Daniël, Gananja, Misael en Asarja het Beltsasar, Sadrag, Mesag en Abednego geword (wie onthou nog die “saalsak, meelsak en appeleenoog”-rympie (volksetimologie) om die name van Daniël se drie vriende te probeer onthou?)]

  1. Bybelse spelling van ons eertydse “sonder-bedrog” begeleier.

[Joh 1:46-47NATANAEL – Jesus se dissipel wat Hy as “ ’n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie”, beskryf het. De Eike se eertydse orrelis of begeleier is natuurlik die bekende “Nataniël”.]

  1. In die begin se naam in 2020 vir (53) se wêreldvloed en (83) se diep waters.

[Gen 1:1OERWATER – “Genesis” beteken “begin” en die boek begin met die woorde “In die begin”.]

  1. Hulle is volgens Matteus die testament-begunstigdes van ons wêreld.

[Mat 5:5SAGMOEDIGES – Hulle sal volgens dié vers “die aarde erf”.]

  1. 2020-naam van ’n politieke aktivis in Jesus se binnekring.

[Mat 10:4KANANEUS – “Jesus se binnekring”: die groep dissipels. Simon Kananeus (2020) is ook Simon Kananites (53) of Simon die Kananeër (83) genoem. In Luk 6:15 word na hom verwys as “Simon met die naam ‘Seloot’ ” (2020) en “Simon wat Yweraar genoem word” (53). Hy word ook soms “Simon die Fanatikus” genoem. Die Selote (vgl met “zealot” in Engels) was ’n aktivistiese politieke groep wat onder meer die Romeinse heerskappy omver wou werp, indien nodig op gewelddadige wyse.]

  1. Die nasate van dié man sou seker in enige moderne basketbal- of netbalspan, of as slot vir die Springbokke, gekies kon word, maar Kaleb en Josua was nie vir hulle bang nie….

[Num 13:27-33ENAK – Die kinders van Enak (Enakiete) was “reuse” (Hulle was dus baie lang mense, soos die sportpersone na wie verwys word. Anders as Josua en Kaleb, wat op die Here vertrou het, het die tien bang verspieders gesê “ons was in ons eie oë soos koringkrieke (sprinkane); ons was soos muggies in hulle oë”.)]

  1. Ons dink elke jaar byna onwillekeurig (vir ’n maand lank?) aan dié Romeinse keiser.

[Luk 2:1AUGUSTUS – Interessantheidshalwe: September, Oktober, November en Desember was die sewende, agste, negende en tiende maande van die jaar volgens die ou Romeinse kalender. Julius Caesar het die (nuwer) Juliaanse kalender laat skep en die maande “Quintilis” (5de) en “Sextilis” (6de) is deur hom en deur Augustus Caesar verander om sy en Augustus se name te verewig. Die huidige Gregoriaanse kalender (Pous Gregorius XIII) het die Juliaanse kalender in 1582 vervang.]

  1. Dié bekende jong Bybelvrou se gewaarwordinge word op gevoelvolle wyse deur die eerste vroulike Hertzogpryswenner verwoord.

[MARIA – In 1943 is die Hertzogprys vir Poësie aan Elizabeth Eybers toegeken (en weer in 1971). Haar pragtige gedig “Maria”, is in 1933 geskryf toe sy 18 jaar oud was.]

  1. Sy en haar man het in Petrus se teenwoordigheid gesterf omdat hulle nie die waarheid gepraat het oor hulle finansiële bydrae tot die vroeë christelike kerk nie.

[Hand 5:1-11SAFIRA – Die korrekte spelling is eintlik “SAFFIRA”. ’n Lidmaat het ons op dié fout gewys nadat die blokkiesraaisel al versprei is en ons het toe die probleem omseil deur die instruksie uit te stuur dat die woord met een “F” gespel moet word vir die doeleindes van die blokkiesraaisel.]

  1. Een mossie het seker ’n halwe van dié muntstuk gekos.

[Mat 10:29ASSARIUS – “Word twee mossies nie vir ’n assarius verkoop nie?” (2020). Die ou vertalings het gelui “stuiwer” (53) en “sent” (83). Dié geldeenheid is 1/16de van ’n denarius, wat gelykstaande was aan ongeveer die dagloon van ’n arbeider. ’n Arbeider sou dus ongeveer 32 mossies met sy dagloon kon koop. . .]

 

DWARS:

  1. Oom van Xerxes se beeldskone en bekende jong Joodse vrou.

[Ester 2MORDEGAI – Xerxes (uitgespreek as Kores) is die Griekse naam van koning Ahasveros (die Hebreeuse naam) (Ester 1:1). Mordegai was die oom en voog van die mooi jong Joodse meisie Hadassa of Ester, wat deur koning Ahasveros as vrou gekies is in die plek van koningin Vasti, nadat dié Ahasveros se gesag uitgedaag het.]

  1. In Josua lees ons van sy stilstand.

[Josua 10:12-13SON – Die son se stilstand is deur die Here bewerkstellig om die Israeliete meer tyd te gun om die vyand (Amoriete) ’n groot nederlaag toe te dien. “Ja, die son het gaan staan in die middel van die hemelruim, en hy was ongeveer ’n volle dag nie haastig om onder te gaan nie.” (Josua 10:13)]

  1. Die naam wat in 2020 gebruik word vir Miga se 53- en 83-“volstruise”.

[Miga 1:8STEENUILE – 2020: “. . . ek wil tjank soos woestynjakkalse en brom soos steenuile;”; 1983: “Ek sal skreeu soos ‘n jakkals, klaag soos ‘n volstruis.”; 1953: “Ek wil klae soos die jakkalse en treur soos die volstruise.”]

  1. In Numeri lees ons dat hy, met noodlottige gevolge, saam met sy broer Datan in opstand gekom het teen Moses.

[Num 16ABIRAM – Korag, asook die broers Datan en Abiram, en het saam met hulle families gesterf ná hulle opstand teen Moses.]

  1. Miga gebruik dié aanspreekvorm as deel van die naam in die bekende Broodhuis-vooruitwysing.

[Miga 5:1EFRATA – “Maar jy, Betlehem-Efrata, al is jy gering in die streke van Juda, uit jou sal daar vir My iemand kom om ‘n heerser te wees in Israel.” “Broodhuis” is die letterlike vertaling van “Betlehem”.]

  1. Waar kom dié assistent van die kaalkopwonderwerker vandaan?

[2 Kon 5:25GEHASI – Elisa is ’n profeet aan wie baie wonderwerke toegeskryf word en hy is eenmaal deur seuntjies gespot “gaan op kaalkop” (hulle het daarmee verwys na sy voorganger, Elia, wat in die hemel opgeneem is). Elisa het vir sy dienskneg, Gehasi, gevra “vanwaar Gehasi?”, toe dié teruggekom het nadat hy op oneerlike wyse ’n beloning van die Naäman gaan vra het weens dié se genesing.]

  1. Die “letterstrepie” van (83) word in (53) en 2020 ’n . . . . . . genoem.

[Matt 5: 18TITTEL – “jota of tittel” word nog redelik dikwels idiomaties gebruik (“jota”: kleinste lettertjie in Griekse en Hebreeuse alfabet. “tittel”: ’n puntjie of stippeltjie, bv op ’n “i”)].

  1. Die 2020-naam van die skriba van die bekende profeet uit Anatot.

[Jer 36:4BARUG – Jeremia is die bekende profeet wat afkomstig was uit Anatot (Jer 1:1). Barug (in 83 “Baruk” gespel) het, as Jeremia se sekretaris (skriba), neergeskryf wat Jeremia gesê of vertel het. Daar is terloops ook drie “apokriewe” boeke wat aan Barug se naam gekoppel word (dus nie in ons Bybel van 66 “kanonieke” boeke opgeneem nie, maar wel in die Bybels van die Rooms-Katolieke en Oosters-Ortodokse kerke).]

  1. Die hoofkarakter van die bekende boek van Francois Alwyn Venter was uit dié stad in die noorde van Gaddafi se land afkomstig.

[Matt 27:32SIRENE/CIRENE – Die bekende skrywer FA Venter se voorname is Francois Alwyn. Hy het onder meer “Man van Cirene” geskryf. ’n Lidmaat het ons daarop gewys dat die Bybel praat van “Sirene” en FA Venter van “Cirene”. Albei spellings is dus aanvaar. Venter het in 1961 die Hertzogprys vir prosa gekry, gesamentlik vir Swart Pelgrim en Geknelde Land. Simon van Sirene het Jesus se kruis gedra. (Muammar) Gaddafi se land is die huidige Libië in Noord-Afrika en Sirene was geleë naby die moderne “Shahat”, sowat 200 km noordoos van die stad Bengazi. Aangesien Simon uit Noord-Afrika afkomstig was, word daar redelik algemeen aanvaar dat hy waarskynlik swart of iemand met ’n donker vel was.]

  1. Vierde Aramese woord in die bonatuurlike “woordfresko” wat die besope koning hewig ontstel het.

[Dan 5:25UFARSIN – Daniël moes vir koning Belsasar van Babilon (terloops, Daniël se Babiloniese naam was “Beltsasar”) verduidelik en uitlê wat die woorde beteken wat die dronk koning op die muur geskryf gesien het. (“mene, mene, tekel, ufarsin” – lees Dan 5:25 tot 28 vir meer inligting). ’n Fresko is gewoonlik natuurlik ’n muurskildery.]

  1. Dié broer van Dan het dieselfde pa en ma as Dan gehad (Genesis).

[Gen 30:1-8NAFTALI – Jakob was die pa en Ragel se slavin Bilha die ma van Dan en Naftali.]

  1. Volgens sommige buite-Bybelse bronne was hy moontlik die magtigste koning in die geskiedenis van die Noordelike Ryk (10 stamme van Israel). Sy skoondogter was uiters boos.

[1 Kon 16:21-28OMRI – Hy is na bewering die eerste koning van Israel (of Juda) wat enigsins in buite-Bybelse historiese bronne vermeld word. Agab was sy seun en Isebel dus sy (bose) skoondogter.]

  1. Hy moes seker toesien dat Artasasta se wynglas nie leeg was nie?

[Neh 1:11 – 2:2NEHEMIA – Hy was tydens ballingskap koning Artasasta (Persiese koning) se skinker.]

  1. Die Latynse “syfernaam” van dié bekende vertaling van die OT in Grieks.

[Woordelys agter in 2020-vertaling (Kyk onder “Septuagint”)LXX –. Die bekendste vertaling van die OT in Grieks was die Septuagint. Dit beteken “70” en verwys na “die OT uit die weergawe van die 70 vertalers”. In Latyn is 50 ’n “L” en 10 ’n “X”. “LXX” is dus 50+10+10=70.]

  1. Die aanspreekvorm deur Obed gebruik as hy met die bekende skoondogter van Naomi gepraat het?

[Rut 4:13-17MA – Rut was natuurlik Naomi se bekendste skoondogter. Obed was Boas en Rut se oudste seun. Interessantheidshalwe: Obed was Isai se pa en dus koning Dawid se oupa. Rut is dus Dawid se oumagrootjie.]

  1. Simeon, leraar van Antiochië, het ook dié naam gehad. (Handelinge)

[Hand 13:1NIGER – Niger was ’n bynaam uit Latyn wat “donker” of “swart” beteken.]

  1. Die Aramese naam van die voorbok onder dissipels.

[Joh 1:42SEFAS – Petrus is natuurlik die leier of voorbok onder die dissipels. “Petrus” beteken “rots”. Hy is ook Sefas en Simon genoem.]

  1. Nie dor nie, maar ’n Aramese manlike nasaat.

[BAR – die woord verwys nie na droog of dor nie maar na “seun van” in Hebreeus en Aramees. Verskillende tale het hulle eie verwysings na “seun van” in name of vanne: Barnabas, Jackson, Thomson, Petersen, MacDonald, Johan Anthoniszoon “Jan” van Riebeeck, Dimitri Yachvili, Eduard Shevardnadze (kyk gerus na die name van die rugbyspelers van Georgië se nasionale span en jy sal waarskynlik nie meer as twee of drie uit die 20+ spelers kry wie se vanne nie op “-ze” of “-vili” eindig nie), Shaun Fitzpatrick, Rodrigues, Hans Christian Andersen, O’Conner, Gorbachev, ens.]

  1. Miga se bekende verwysing is natuurlik nie werklik na dié moderne broodhuisdorp in die Riemland nie.

[Miga 5:1BETLEHEM – Miga verwys na Jesus se geboortedorpie Betlehem en nie na “Bethlehem” in die Oos-Vrystaat nie.) “Bet(h)elem” beteken letterlik “broodhuis” en die Riemland is ’n streek in die ooste van die Vrystaat wat dorpe soos Kroonstad, Bethlehem, Lindley, Reitz, Heilbron en Senekal insluit.]

  1. Eliméleg/Elimelek se minder bekende skoondogter uit Moab.

[Rut 1ORPA – Eliméleg was Naomi se man en hulle seuns was Maglon en Giljon. Hulle is ná Eliméleg se dood met die Moabitiese vrouens Rut en die minder bekende Orpa getroud.]

  1. Dié profeet sou seker ’n witklipadvertensie soos dié teen Laingsburg se hange vir sy tuisdorp Tekoa ondersteun het.

[Amos 1:1AMOS was ’n profeet uit Tekoa en word in die Bybel ’n “herder”, “skaapboer” of “skaapwagter” genoem. Teen die hange van ’n heuwelreeks net suidoos van Laingsburg is die woorde “DRA WOL” (met witgeverfde klippe gepak) duidelik sigbaar van die N1 af.]

  1. “Aangenaam is vir ’n mens die brood verkry deur bedrog, maar daarna is sy mond vol . . . ”

[Spreuke 20:17GRUIS]

  1. Sou Jaïrus ooit kon dink dat dié naam vandag nog aan babadogtertjies gegee sou word? (Markusspelling)

[Mark 5:41TALITA]

33, Dwars