10 September 2021

Aan die eienaars van nissies in die muur van herinnering by De Eike gemeente wil ons graag hierdie inligting deurgee en u samewerking vra.

Ons het bewus geword van blomme wat verwyder word by van die nissies. Dit is vir die geliefdes van die persoon(e) wie se as in die nissie geplaas het ‘n traumatiese ervaring. Ons wil graag aan u almal vra om ons te help met eerbiediging van hierdie area en dit waarvoor ons die muur van herinnering opgerig het.

Voordat die muur opgerig is, het ons goedkeuring langs amptelike kanale verkry. U het almal ‘n sleutel ontvang sodat u by die muur kan uitkom. Dit was deel van ons beplanning en ooreenkoms reg van die begin af. Indien ons nou so drasties moet optree om die slotte te vervang sal ons beslis die oorspronklike gees waarin hierdie taak aangepak is skade aanrig. Dit sou dus ‘n laaste uitweg wees. Ek wil u dus vra om die gees wat ‘n mens by so ‘n muur van herinnering verwag, sal eerbiedig. Ek vra ook verder dat u enige voorstelle om soortgelyke probleme te voorkom vir ons sal stuur sodat ons saam ‘n goeie oplossing kan uitwerk.

Om met hierdie voorstelle te help moet u ingedagte hou dat wind blomme uit die houers kan waai en dat ons bewus is dat kraaie al van die blomme uitgetrek het. In die lig hiervan wil ons solank ‘n voorstel maak dat kunsblomme se steeljies gebuig word om ‘n hakie te maak wat onder aan die houertjie sal haak en dus kan voorkom dat blomme uitwaai of dat kraaidiewe dit verwyder. Sou blomme uitwaai sal ons koster dit versamel en in ‘n houer in sy kantoor hou.

Verder wil ons ook u opinie kry t.o.v die verwydering van verlepte of dooie blomme. Ons kan byvoorbeeld die blomme verwyder wanneer die area op ‘n Vrydag opgeruim word. Laat weet asseblief hoe u oor so ‘n reëling sal voel.

Baie dankie dat ons kan saamwerk om ons geliefdes te gedenk op ‘n eerbare en respekvolle manier.