5 Maart 2021

WAT AS?

Omdat ons mense is, lewe ons in verhoudinge met mekaar. Maar nou weet jy mos dat daar in elke verhouding onderwerpe is wat liewer vermy moet word – mynvelde waar ons dit ter wille van goeie samesyn en verhoudinge eerder nie waag nie. Dis ook van ons eie gesinne waar. Ons het ook as gesin ’n paar sulke mynvelde geïdentifiseer wat spanning kan veroorsaak en wat ons daarom ten alle koste vermy. Ons bly eerder weg van sulke potensiële gevaar-areas. Maar nou het ons ook aan die ander kant met mekaar ooreengekom om nie angels in die doofpot te stop nie – ons verhouding as gesin is net eens te belangrik dat ons kritiese dinge kan verswyg. Deursigtigheid is ons wagwoord!

 

Soos dit egter in ‘n gesin waar is, is dit ook in die kerk waar. Ook binne die kerk is daar sulke mynvelde, wat almal – veral die dominee! – liewer altyd moet vermy. En die een so ‘n mynveld waar die dominee wyd verby moet hou, is om oor geld te praat. Dis dan waarom ek nie vandag oor geld skrywe nie, maar wel oor rentmeesterskap. Want daaroor praat die Bybel mos baie duidelik. Die Bybel leer dat ons band met die Here ons ook verbind om verantwoordelike rentmeesters te wees. Kom ek verduidelik: Ek en jy besit eintlik niks nie – ons huis, ons kar, ons beleggings, is alles die Here s’n. Maar die Here het ons genoeg vertrou om ons as bestuurders (“rentmeesters”) aan te stel oor alles wat Hy aan ons toevertrou het. ‘n Rentmeester raak nooit ‘n baas nie – hy bestuur dit wat nie regtig aan hom behoort nie, maar waarvoor hy verantwoordelik gemaak is. En natuurlik moet ‘n rentmeester ook rekenskap gee van hoe hy alles wat aan hom toevertrou is, bestuur het.

 

Ons is verantwoordelik vir dit wat die Here s’n is. Daarom kan ons nie maar net onbetrokke staan en toekyk hoe die Here se gemeente agteruitgaan, en hoe De Eike se ligte dalk eindelik afgeskakel word nie. Maar daarvoor moet ons natuurlik ingelig wees, en dis waar hierdie brief van die leierskap van De Eike nou inkom. Ons as leierskap wil nie hê dat daar eendag na ons gekyk en gevra word: “ Maar hoekom het julle ons nie gesê nie”

 

Die waarheid is, dat Covid-19 vir De Eike baie seergemaak het. Baie lidmate voel die pyn op vele terreine en daarvoor het die kerkraad soveel deernis. Tog moet ons daarteen waak dat ons as die Here se rentmeesters agter Covid-19 wegkruip en sodoende ons verantwoordelikheid  versaak. Dis ontstellend hoedat dit ‘n patroon geraak het met ons nuwe manier van eredienste op video beeldsend, dat al meer mense net die eredienste “bywoon” – selfs in groter getalle as toe ons in die kerkgebou bymekaargekom het – maar intussen het ons dankoffers en kollektes drasties verminder. Maandelikse dankoffers het ook dramaties afgeneem, tot op ‘n punt toe waar ons geen ander keuse het as om met julle oop kaarte te speel en deursigtig te wees nie.

 

De Eike sal uiters verantwoordelik moet omgaan met ons finansies, ernstig moet bespaar en daarby planne moet beraam om te verseker dat die werk van die Here nie skade ly nie, terwyl ons ook hande vat en saam bid oor hierdie saak. Dis tyd dat elkeen van ons ernstig moet besin oor ons betrokkenheid en ons deelname in De Eike. Elkeen sal hom- of haarself ernstig moet afvra: “Is ek getrou aan die Woord van die Here en neem ek my opdrag as rentmeester ernstig op?” Daardie spreekwoordelike gevaarligte flikker al helderder vir De Eike en elkeen van ons wat lidmate van hierdie gemeente is, sal verantwoordelikheid moet aanvaar vir  ons deelname en betrokkenheid.