8 Junie 2018
Beste Trustlede
Dit is met ‘n dankbare hart dat ek hier skryf. Dit was voorwaar ‘n groot voorreg om deel te kon wees van die 10de Child Trauma konferensie. Die blote teenwoordigheid sowel as die kennisbasis van groot geeste in die kinderbeskermingsveld was regtig iets om te beleef.
Die aanbiedings wat die treffendste was, was beslis dit wat ons prakties in ons werkplek kan toepas. Die afgelope Saterdag het ons deelgeneem aan ‘n helings proses vir gesinne van skole in gemeenskappe waar armoede en geweld aan die orde van die dag is, as uitvloeisel van ‘n aanbieding by die konferensie. Dit het ons inspireer om ‘n soortgelyke program vir ons eie gemeenskap aan te bied.
Daar is ook gefokus op spesifieke programme en gereedskap wat gebruik kan word in groepwerk met tienerdogters, kinders wat seksueel gemolesteer is en hulle versorgers. Ons is herinner aan die belang om persone in die gemeenskap te bemagtig om kinders wat getraumatiseer is te help. Versorgers van getraumatiseerde kinders het ook leiding nodig en dit is ‘n aspek wat dikwels afgeskeep word. Ons is ook bewus gemaak van vrouens wat kinders seksueel molesteer en die gebrek aan navorsing hieromtrent.
Die aanbieding t.o.v. die dienste aan die familie en ‘n jong seun wat met kanker gediagnoseer is, was aangrypend. Die aanbieder se eerlike weergawe en erkening van haar eie emosies gedurende die proses het almal geraak. Navorsing t.o.v. depressie het bevestig dat jong mense tussen die ouderdom van 19 en 30 jaar, die grootste groep is wat die angs en depressie hulplyn kontak. Ons is herinner aan die langtermyn skade wat verwydering van kinders beleef t.o.v. “attachment” en hoe daar verseker moet word dat dit die enigste uitweg is.
Aanbieders het ook ‘n uitnodiging aan ons gerig om hulle te kontak indien ons advies benodig t.o.v. hulle onderwerpe. Dit het my laat besef hoeveel ons as diensleweraars mekaar nodig het. Multi-dissipliNeré dienslwering maak net meer sin en beter samewerking met die gemeenskap kan gesinne net soveel beter help.
Baie, baie dankie aan die Trust wat dit moontlik gemaak het vir ons om die konferensie by te woon. Behalwe vir die kennis wat opgedoen is, help dit ook om die nodige punte (Continuous Professional Development) vir voortgesette registrasie by die Maatskaplike Raad te verkry. Sonder die nodige punte kan ons nie praktiseer nie.
Dankbare groete
Karin Bursey
(De Eike het deur sy Geloofbelofteofferfonds bygedra om dit vir Karin moontlik te maak om die konferensie by te woon – Red.)