4 September 2020

1 Augustus 2020

Liewe Gemeente

So 3 maande gelede het ek ‘n epos van prof Gideon Els, Redakteur van Vir die Musiekleier (die amptelike publikasie van die SA Kerkorrelistevereniging) gekry.  Hy is besig met ‘n navorsingsprojek: Ons mees geliefde Kerklied en hy vra toe dat ek deel van die paneel sal wees.  In daardie tyd was ek op my besigste met die Kerkorrellisensiaat (ek sal julle later daarvan vertel) en wou sommer summier nee sê, maar toe ek dink hoe goed baie mense vir my is op daardie tydstip, het ek besluit ek help die professor.  Hy beplan om ‘n navorsingsartikel te publiseer uit die resultate.

 

Dit was regtig baie interessant.  Die Liedboek, Vonkk en Flam het sowat 1589 liedere.  Hy het ons laat weet dat hy 3 elektroniese vraelyste sal stuur oor ‘n periode van 2 maande.  By elke rondte verminder hy die liedere van die steekproef.

Die eerste rondte het ons deur 617 gewerk.

Die tweede rondte deur 248 en

die derde rondte deur 120.

Dit het al moeiliker geraak, want jy kry bv 10 liedere om net die 7 gewildstes te kies en dan moet ek behoorlik “sit en luister hoe julle dit sing” om te kies, want almal is dan pragtig vir ons gemeente.

 

Wat nou die beste van alles is:  ‘n vierde, verminderde en finale vraelys word gestuur wat aan soveel as moontlik respondente gestuur sal word om daaruit hul gunsteling kerklied te kies.  Wanneer dit kom, sal ek vir ds Hannes vra dat ons dit ook in die Nuusbrief opneem vir diegene wat bereid is om dit te voltooi.

 

Ek mis ons kerksang met ‘n passie.  Vat so nou en dan julle Liedboeke en raak weer lief vir ons kerklied!

Orrelgroete

René Ferreira