1 Julie 2021
4-10 Jul
Bosnië-Herzegowina: Bid dat daar in die Bybelbehoeftes van die mense hier voorsien sal word. Dra die Christene, asook die behoeftes van die Dowes in die land, in gebed op.
Kroasië: Die vertaling van die Bybel in moderne Kroaties is goed op dreef. Bid dat die Woord van God, soos daar in die Bybel geskryf staan, nie leeg sal terugkeer nie, maar dat die lewegewende boodskap die harte van menigte sal aanraak en oovloedig vrug sal dra.
Serwië: Serwiërs benodig ‘n Bybel in hedendaagse Serwies. Die Bybel is reeds in verskeie formate beskikbaar, maar nog nie in ‘n dialek wat in die sentrale deel van Serwië gepraat word nie. Bid vir Bybelvertalingswerk hier sodat daar in al die behoeftes van hierdie groep Serwiërs voorsien sal word.
Slowenië: Die Covid-19 pandemie het dit baie duidelik gemaak dat digitale migrasie noodsaaklik is sodat Bybelwerk hier kan voortgaan. Bid dat al die aktiwiteite wat beplan word om ons op die pad na digitale transformasie te help, met sukses afgehandel sal word.
11-17 Jul
Albanië: Bid steeds vir die vertaling van die Nuwe Testament in Gheg, ‘n taal wat deur 2,3 miljoen Albanese, asook inwoners van Kosovo, Masedonië en Montenegro gepraat word. Bid ook vir ons Big Match-projek, wat poog om behoeftige kinders en jeug op ‘n holistiese manier te benader.
Griekeland: Die Helleense Bybelgenootskap het twee jaar gelede 200 jaar van Bybelwerk in Griekeland gevier. Bid dat ons op hierdie werk sal kan voortbou. Bid ook vir die vertaling van die Septuagint in moderne Grieks wat vir die nuwe generasie meer gepas sal wees.
Masedonië: Bid vir die nuwe vertaling van die Nuwe Testament in Masedonies. Daar is groot opwinding en afwagting soos die projek sy einde nader. Bid dat dit tot voordeel van baie mense, en spesifiek jongmense, sal wees.
18-24 Jul
Litaue: Ons wil die geestelike landskap onder ons jongmense verander en aktief daaraan werk om vir hulle hoop te gee en so hul geloof te bou. Bid vir die Living Pictures-projek wat jongmense aanmoedig om ‘n Skrifgedeelte te ontleed en dit dan visueel weer te gee.
Belarus: Daar is ‘n behoefte om ons e-handel se potensiaal verder te ontwikkel. Bid dat ons hierdie platform effektief sal kan gebruik. Vra ook in gebed dat ons die bybelbehoeftes van ons mense sal kan aanspreek.
25-31 Jul
Estland: Bid vir ons poging om bybelse waardes in ons gemeenskap – wat grotendeels sekulêr is – te bevorder. Bid ook vir ons vertaalwerk en dat dit in die Bybelbehoeftes van ‘n nuwe generasie Estlanders sal voorsien.
Letland: Ons is tans besig met die hersiening van die Bybel in moderne Letties. Bid dat die hersieningsproses deeglik sal wees en in tyd voltooi sal word. Bid ook vir ons projek om die Evangelie van Matteus in Lettiese Gebaretaal vir die dowe gemeenskap te vervaardig.
Romenië: Bid vir die hersiening van die Cornilescu Bybel. Ongelukkig sien ons ‘n styging in die diagnose van sekere tipes kanker. Bid vir ons pogings om mense met die lewegewende boodskap van die Woord te help om die trauma van kanker te oorkom.